Pages

Monday, 26 August 2013

Terug in Aksie

Na 'n skielike klein operasie aan my knie en onverwagte komplikasies daarna was ek bietjie uit aksie, maar eind goed alles goed en ek is terug.

Baie dankie vir die boodskappe en belangstelling in die blog wat deur hierdie woestyntyd nie opgehou het nie.  Ek gaan probeer om in te haal met wat agter geraak het maar ons het verlede week ons matriekdinee gehou en ek wil dit nou bietjie voorkeur gee.  Die blog gaan dus by die hede begin en dan waarskynlik bietjie terug spring na vorige tye wat ek graag wil deel.

Die jaar snel ten einde wanneer die matrieks begin rokke pas vir die matriekafskeid, die interskole agter die rug is en die komende rekord eksamen die atmosfeer in die koshuis oornag verander. Huis du Preez se matriekdinee is verlede Woensdag gehou, dit is ook die geleentheid wanneer ons die nuwe Huiskommitee aankondig en die kinders kans kry om op hul mooiste te lyk.  Ek was op een en 'n halwe been maar saam met die kombuispersoneel, dames van die toesigpersoneel en die Gr.11's het ons 'n heerlike aand aangebied.

Gr.11's hard aan die werk om die saal op te dollie

Nadia besig met die afrondingswerk
Die kombuis was Dinsdag al in rep en roer met ontvangs van voorrade en die begin van die groot kook wat gewag het.
Die tema was Moulin Rouge - a Night in Paris en dit was ook die inspirasie vir die spyskaart.

Hors d'oeuvre
Croustini
Fromage
Pate
Quiche

Plat Principal
Filet au Povre en croute
Pom frittes
Rondelles d'oignon croustillantes
Bistro salade

Dessert
Rouge velvet gataux

Die hoofgereg was steak in filopakkies.  Ek en Johanna het reeds Dinsdag die 200+ steaks 'n vinnige braai gegee om die geur te ontwikkel en seker te maak die vleis is reg gaar wanneer dit saam met die filo gebak word.  In Franse styl is dit op 'n bed van grof gemaalde swart peper geplaas vir 'n geurige peperkorsie.
Die steaks kry hul eerste geurlagie in die warm pan

Sappig gebraai

Johanna hou 'n oog oor elke stukkie wat braai

Steaks reg om in filo pakkies te gaan
Woensdag is daar vroeg begin met die voorbereiding. Alles is afgelewer en ons was reg vir aksie.  Gerty het haar span bymekaar gekry en begin met die spinasie quiche wat saam met kaasborde, hoenderlewerpatee en Franse brood as voorgereg bedien is.

Gerty saam met Jeanette en Juanita besig om groente voor te berei
Spinasie quiche reg vir die oond
Quiche reg om bedien te word
Johanna skep die lewerpatee in bakkies

Hoenderlewerpatee om saam met kaas en Franse brode bedien te word
Leattitia en Maryline besig om die Franse brood reg te kry vir kaasborde. Agter is Marlene en kie besig met die uieringe se doop en braai.
Die voorgereg word op die tafels geplaas net voordat die "gaste" instap. Ongelukkig het die foto hiervan in die slag gebly!  Die kinders het kom hand bysit en flink gehelp om die bordjies reg te kry vir bediening.
Johanna sorg vir porsiebeheer voordat die kinders oorneem om die voorgereg te skep

Hulle maak seker die bordjies lyk almal dieselfde met Rose wat toesig hou
Die kombuis was heeldag 'n goed ge-oliede masjien wat die een gereg na die ander berei het. Ek was soms net raadgewer wat alles kan doen maar niks vir te lank nie, die stoel was heeltyd naby om die knie genadig te wees.
Kombuis in rep en roer
Rose, Braam en Charmaine dop die eiers af vir die slaaiborde
Natasha help vir Gerty met die geroomde sampioene wat saam met die filopakkies bedien is

Maryline en Nora kry die uieringe reg om gedoop en gebraai te word

Elize en Charmaine se beurt by die braaier
Die Hoofgereg was die filo-steak-pakkies bedien met geroomde sampioene, dun Franse skyfies en gebraaide uieringe.  Franse bistro slaai met 'n heuning en mosterd slaaisous is op die tafels geplaas.
Filo word gesmeer voordat die steaks daarin toegemaak word

Ek vind olyfolie werk net so goed soos gesmelte botter by die filo, veral in die ysige koue wat die botter gou laat verhard
Filopakkies met gepeperde steaks reg vir die oond
Bros gebraaide uieringe
Hoofgereg bedien met Bistro slaai

Franse Bistro slaai met eier,bros gebraaide spek en croutons op 'n mengsel van blare. Bedien met Heuning en Mostert slaaisous


By die nagereg het ek 'n kortpad gevat en klaar gebakte Rooifluweelkoeke aangekoop.  Dit was gelukkig baie baie lekker met 'n uitsonderlike makrolletjie krummel buitelaag.

Rooi Fluweelkoek met gekrummelde makrolletjie (macaroon) buitelaag
Die Gr. 11's staan reg om die nagereg te bedien
Perfekte afsluiting vir 'n Moulin Rouge aand - Dekadent en ROOI 
Die matrieks is gegroet, die nuwe Huiskommitee aangewys en daarna is Donderdag en Vrydag gebruik vir opruiming saam met die voorbereiding vir die naweek se HK opleiding.

"The show must go on!"

Friday, 26 July 2013

Die Laaaang Winter Vakansie


Die kwartaal het onverwags vinnig uitgeloop en daar moes 'n hele paar dinge gebeur voordat ons die koshuis kon oorgee vir die vakansieverhuring.  Dit was ontruim aan die kinders se kant, tasse pak vir saamneem en ander goed in die kas of taskamer bêre.  Dit was skoonmaaktyd en groettyd.  Daar is spanning (eksamen, rapporte) maar ook opgewondenheid (huis toe gaan, vakansiebestemmings) by die kinders maar ook ons het die spanning van die koshuis nagaan en regruk vir die vakansiehuurders wat oppad is (die vensterperiode waarin hierdie prosesse moet geskied is bitter klein), die bestellings plaas soos nodig gaan wees, ens. maar ook ons eie opgewondenheid oor 'n rustyd en bietjie "huistyd".

Die meisies skrop en skuur en strip en polish van die môre tot die aand, maar het nog steeds tyd vir 'n glimlag en 'n grappie op sy tyd.  Ons is bevoorreg om 'n span dienspersoneel te hê wat soos een man inspring en die werk gedoen kry soos en wanneer nodig.  In hierdie tyd het ons nog 'n paar ekstras ook ingepas.

Eerste het ons twee oud-inwoners, Hanri en Elizabeth Joubert, terugverwelkom. Hulle was vir twee jaar hier as toesigpersoneel voor hulle hul vlerke na Suid-Korea gesprei het.  Ek het so 'n kombinasie van Suid-Afrikaanse kookkuns en die van Korea gemaak.  Ek moet erken by gebrek aan die nodige kennis en produkte het die Koreaanse slaai 'n eg Suid-Afrikaanse kinkel gekry, maar dit is baie goed ontvang.


Daleen het vir ons die lekkerste soutkoekies met kaas, droëwors en soetrissie op die tafel gehad.


Hierna was dit tyd vir die Koreaanse slaai.
Die mielies is gebruik ipv bamboeslote

2 Slaaisouse is gemaak (natuurlik met aangepaste resepte)

Goeie geselskap en wyn
Koreaanse slaai
(Op die SA manier)
Marinade:
                   50 ml  Wynasyn
                   50 ml   Soja sous
                   3          Knoffelhuisies
                   1          Groenui, fyn gekap

Meng alles saam in groot bak.  Sny 2 - 4 hoenderfilette in blokkies en bedek met marinade. Laat staan vir omtrent 30 min.
Geur 250 ml Mielieblom met rissie poeier of vlokkies en bedek die hoenderblokkies daarmee.  Skud die oortollige af en braai in warm olie tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Hierby kom verskeie ander bestanddele, soos bamboeslote wat ek met mieliepunte vervang het.  Die Koreaanse gepiekelde geel radys het ek vervang met pynappel en mango blokkies.  Die seegras het ek mangetout gebruik en die gekapte komkommer, ui en aartappelblokkies was bekend genoeg om net so by te voeg.  Die aartappels is egter die pers soort wat ek toe nie kon kry nie, so dit word toe sommer croutons.

Daar is sommer twee slaaisous by hierdie slaai.  Ook hier het ek vrylik aanpassings gemaak maar die resultaat was baie lekker en die twee souse is baie verskillend en werk goed saam.

Soja slaaisous:

125 ml    Sojasous
60 ml      Suiker
300 ml    Wynasyn (kon nie ryswynasyn in die hande kry)
                Rissie vlokkies of poeier
250 ml    Olyfolie (ipv sesame olie)

Gooi die eerste 4 bestanddele in 'n voedselverwerker en meng goed.  Gooi die olyfolie in 'n dun straaltjie by terwyl die menger aan is.  Verkoel.

Hierdie sous kan ook by steak en roerbraai geregte gebruik word.

Sesame vinaigrette:

(Wat eintlik pine nuts met sesame olie moes wees)

60 ml    Sesame saad
50 ml    Kookwater
20 ml    Olyfolie
50 ml    Wynasyn
             Sout en Swartpeper

Meng alles saam in voedselverwerker tot net gemeng.  Moet growwe tekstuur hê.

Alles bedien op 'n bed van gemengde slaaiblare en roket.

Die verrassing van die dag was dat my "lamskenkels" toe heel lamsnekke was.  Hulle is toe met rooiwyn en geurmiddels in die oond gepamperlang tot hulle sag was en toe is worteltjies en sampioene bygevoeg vir afronding.  Dit is bedien met gebarste aartappels en pampoenpoffertjies.

Lamsnekke in pot in oond gestowe

Pampoenpoffertjies met karamelsous (gemaak met Botterskorsie)
Gebarste Aartappels (Kook die aartappels tot net sag.  Druk plat met potato masher tot dit bars.  Bedek met olyfolie en gooi roosmarynblaartjies by.  Geur met Sout en Peper.  Bak in oond tot krakerig
  
Lamsnek met aartappel en pampoenpoffertjies
Ons het die ete afgesluit met sjokolade cinnabuns en Roomys met Madagaskar vanielje van Woolies.

Dit is regtig so lekker as oud-inwoners hul pad weer terugvind en mens kan sien dit gaan met hulle goed.

Hou die spasie dop vir nog 'n paar goedjies waarmee ons besig was voor en in die vakansie.



Monday, 10 June 2013

Beetslaai

Hierdie storie het 'n effense aanloop.  Ek het lankal terug gehoor van 'n "heerlike Beet en Feta slaai" wat op 'n onthaal voorgesit is.  Ek was nuuskierig maar is nie 'n groot slaaieter nie so dit het so in my agterkop gaan sit.  Ek het intussen soms resepte daarvoor gesien maar by gebrek aan vars beet het ek nooit by die probeerslag uitgekom nie.

Die afgelope paar weke is daar 'n landswye tekort aan geblikte beet (Ons gebruik die groot 3kg blikke) en die kleiner huishoudelike flesse is net te duur vir ons om aan te koop.  Desperaatheid dryf my toe om te begin vra vir vars beet, maar selfs dit is nie beskikbaar nie. Verlede week vra ek terloops weer, want hulle het gesê daar sal eers einde Junie selfs Julie eers weer beet beskikbaar wees.  Daar kry ek toe vars beet, nou wel nie die jong baba beetjies waarvoor my resep vra nie maar lekker vars.

Donderdag aand kyk ek toe Kokkedoor op Kyknet en daar noem hulle dat mens beet op sout in die oond moet bak vir die beste smaak.  Ek sit dadelik regop want ek het dan nou beet en so het ek dit nog nie gemaak nie.

So het dit gekom dat ek deur 'n paar resepte en hierdie raad my Maandag beetslaai bymekaar geslaan het.  Goeie kommentaar teruggekry, die kinders het net die Feta vinniger as die res van die slaai geskep, so volgende keer meer Feta?


Vars Heel Beet is op 'n laag growwe sout gepak en vir 40 min in die stoomoond gebak teen 160 grade totdat dit sag was

Johanna skil die gaar gebakte beet
Beet in repies gesny

Vars Beetslaai met Feta
Ek het nie vars Roket of Spinasie blare gehad nie, so gewone blaarslaai is onder gebruik.
 RESEP:

Vars beet, oondgebak op 'n laag sout tot sag en gaar
Laat effens afkoel maar nie yskoud
Skil en sny die beet soos verkies
Plaas 'n laag roket of baba spinasie blare onder in bak
Skep die beet bo-op en meng liggies
Gooi die sous oor (sien resep onder)
Rangskik Feta en neute bo-op en bedien dadelik.

Slaaisous:

125 ml       Balsamiese Asyn
5 ml            Suiker
125 ml       Olyfolie

Roer oor medium hitte totdat die suiker opgelos is. 
Bring tot kookpunt en kook totdat dit effens gekondenseer is.
Laat afkoel en roer olyfolie by.


Vars Beetslaai met Feta en Balsamiese Asyn

Wednesday, 5 June 2013

Eksamen Tyd !!!

EKSAMEN TYD is 'n tyd in ons program wat met ongekende spanning gepaard gaan.  Almal is besig met finale voorbereiding voor hulle rekenskap gee van die kwartaal (halwe jaar) se werk. Elkeen probeer vir oulaas die prentjie op die rapport mooier inkleur.  Dit beteken stilte in die gange (die hele dag!) sodat almal 'n kans kry om te fokus.  Dit beteken ongewone gedrag by meeste mense, skielik is jy lus vir dinge waaraan jy nooit aandag gee nie, soos draf of ekstra koffie drink of flieks kyk op jou laptop.  Op 'n manier het baie van ons hierdie instink om onsself te ondermyn... jy weet jy moet fokus en die berg werk happie vir happie wegwerk, maar die versoekings is so groot, hulle roep soooo hard.  Deur 'n leeromgewing te skep word almal gemotiveer om harder te werk, daarom gee meeste ouers toestemming dat leerders op hul "blok" dae by die koshuis studeer.

Groepies sit met tye saam in die eetsaal om mekaar te help, baie keer van die seniors wat juniors bietjie help.  Dit is die gees van HDP, dit is die dinge wat 'n positiewe atmosfeer skep en op die ou einde almal laat beter voel.  Soms kom tutors in om ekstra lesse aan te bied, dit is veral wiskunde wat hier aandag kry.

Die ander kant van die munt is dat eksamen tyd ook beteken die vakansie is op hande, en HUIS TOE GAAN is 'n werklikheid en saam met die spanning is die verlange en afwagting soms amper tasbaar.  Daar word begin met wegpak en weggooi en inpak en opruim en die besluite van wat moet saam en wat kan gestoor word vir volgende kwartaal.  Voor ons, ons kom kry begin die busse en vliegtuie vertrek en kan almal bietjie huiskos gaan eet, kans kry om stories uit te ruil en mekaar as gesin weer te waardeer.  
Breektyd word gebruik om bietjie te ontspan

Koffiedrink saam met vriende is net die ding vir breektyd

Die koue en konsentrasie maak mens honger en 'n roosterbroodjie is altyd lekker.

As die honger (of die spanning) te erg raak is die kombuis altyd daar vir 'n lekker broodjie

Ons is uiteindelik op ons nuwe spyskaart, ek het al die nuwe geregte ingesluit en ons verskeidenheid lyk definitief beter.  Die kinders geniet die meer moderne geregte en die nuwe smake, hulle sit al versoeke in as die geregte nie gou genoeg herhaal word nie.  Dit maak ons werk 'n plesier en laat mens nog harder probeer.  Ek werk nog hard aan my vaardighede met die kamera en hoop om die gehalte van my foto's nog baie te verbeter.

Maandag het ons nog gesteier van die skielike winterweer wat ons die naweek getref het, met hael wat Sondag oor amper die hele Kaapse Skiereiland geval het.  Ons het die week begin met heerlike Kerriebredie bedien met groente en slaai en vir aandete was dit die gewilde HDP Spagetti Bolognaise. Gister was dit "deconstructed" Hoenderpastei en gisteraand het ons gesmul aan Ribburgers. 
Hael lê Sondag wit in Kaapstad
PRAGTIGE Wintersdag op Stellenbosch
Vandag het die weer opgeklaar en die son het deurgekom en dit is een van die heerlikste vars winterdae in Stellenbosch. Ons bedien vir middag ete heerlike Oosterse Soetsuur Vark saam met Kapokaartappels, Kopkoolgebak en mengelslaai en natuurlik was dit Woensdag so Johanna het gesorg vir heerlike gebakte Klapperpoeding met tuisgemaakte vla.  Ek eet kopkool gewoonlik net in roerbraai geregte, maar Johanna tower die gekerfde kopkool  (gemeng met bechamel sous en Bacon Kips) en 'n bo-laag van Kaas en Bacon Kips om tot 'n onweerstaanbare gereg.  Die geur hang in die kombuis en jy kan nie anders as om te proe nie en dan weet jy, dis te laat, jy sal die kopkool eet.

Aartappels kook in kantelbraaier om verwerk te word na donsige Kapokaartappels
Begin van die heerlike Kopkool gereg
Gemarineerde varkvleisblokkies word liggies gebraai en warm gehou
Soetsuursous met vars Oosterse geure word berei voordat die vleisblokkies bygevoeg word om  heeltemal gaar te kook
Middagete - Oosterse Soetsuurvark met donsige Kapokaartappels, Kopkoolgebak en Mengelslaai
Vrugte en Klapper Poeding met Tuisgemaakte vla
Vanaand eet ons 'n heerlike mielie-vetkoekie bedien met kaas en stroop saam met 'n gebraaide worsie en heerlike tuisgemaakte sop.