Pages

Monday 26 August 2013

Terug in Aksie

Na 'n skielike klein operasie aan my knie en onverwagte komplikasies daarna was ek bietjie uit aksie, maar eind goed alles goed en ek is terug.

Baie dankie vir die boodskappe en belangstelling in die blog wat deur hierdie woestyntyd nie opgehou het nie.  Ek gaan probeer om in te haal met wat agter geraak het maar ons het verlede week ons matriekdinee gehou en ek wil dit nou bietjie voorkeur gee.  Die blog gaan dus by die hede begin en dan waarskynlik bietjie terug spring na vorige tye wat ek graag wil deel.

Die jaar snel ten einde wanneer die matrieks begin rokke pas vir die matriekafskeid, die interskole agter die rug is en die komende rekord eksamen die atmosfeer in die koshuis oornag verander. Huis du Preez se matriekdinee is verlede Woensdag gehou, dit is ook die geleentheid wanneer ons die nuwe Huiskommitee aankondig en die kinders kans kry om op hul mooiste te lyk.  Ek was op een en 'n halwe been maar saam met die kombuispersoneel, dames van die toesigpersoneel en die Gr.11's het ons 'n heerlike aand aangebied.

Gr.11's hard aan die werk om die saal op te dollie

Nadia besig met die afrondingswerk
Die kombuis was Dinsdag al in rep en roer met ontvangs van voorrade en die begin van die groot kook wat gewag het.
Die tema was Moulin Rouge - a Night in Paris en dit was ook die inspirasie vir die spyskaart.

Hors d'oeuvre
Croustini
Fromage
Pate
Quiche

Plat Principal
Filet au Povre en croute
Pom frittes
Rondelles d'oignon croustillantes
Bistro salade

Dessert
Rouge velvet gataux

Die hoofgereg was steak in filopakkies.  Ek en Johanna het reeds Dinsdag die 200+ steaks 'n vinnige braai gegee om die geur te ontwikkel en seker te maak die vleis is reg gaar wanneer dit saam met die filo gebak word.  In Franse styl is dit op 'n bed van grof gemaalde swart peper geplaas vir 'n geurige peperkorsie.
Die steaks kry hul eerste geurlagie in die warm pan

Sappig gebraai

Johanna hou 'n oog oor elke stukkie wat braai

Steaks reg om in filo pakkies te gaan
Woensdag is daar vroeg begin met die voorbereiding. Alles is afgelewer en ons was reg vir aksie.  Gerty het haar span bymekaar gekry en begin met die spinasie quiche wat saam met kaasborde, hoenderlewerpatee en Franse brood as voorgereg bedien is.

Gerty saam met Jeanette en Juanita besig om groente voor te berei
Spinasie quiche reg vir die oond
Quiche reg om bedien te word
Johanna skep die lewerpatee in bakkies

Hoenderlewerpatee om saam met kaas en Franse brode bedien te word
Leattitia en Maryline besig om die Franse brood reg te kry vir kaasborde. Agter is Marlene en kie besig met die uieringe se doop en braai.
Die voorgereg word op die tafels geplaas net voordat die "gaste" instap. Ongelukkig het die foto hiervan in die slag gebly!  Die kinders het kom hand bysit en flink gehelp om die bordjies reg te kry vir bediening.
Johanna sorg vir porsiebeheer voordat die kinders oorneem om die voorgereg te skep

Hulle maak seker die bordjies lyk almal dieselfde met Rose wat toesig hou
Die kombuis was heeldag 'n goed ge-oliede masjien wat die een gereg na die ander berei het. Ek was soms net raadgewer wat alles kan doen maar niks vir te lank nie, die stoel was heeltyd naby om die knie genadig te wees.
Kombuis in rep en roer
Rose, Braam en Charmaine dop die eiers af vir die slaaiborde
Natasha help vir Gerty met die geroomde sampioene wat saam met die filopakkies bedien is

Maryline en Nora kry die uieringe reg om gedoop en gebraai te word

Elize en Charmaine se beurt by die braaier
Die Hoofgereg was die filo-steak-pakkies bedien met geroomde sampioene, dun Franse skyfies en gebraaide uieringe.  Franse bistro slaai met 'n heuning en mosterd slaaisous is op die tafels geplaas.
Filo word gesmeer voordat die steaks daarin toegemaak word

Ek vind olyfolie werk net so goed soos gesmelte botter by die filo, veral in die ysige koue wat die botter gou laat verhard
Filopakkies met gepeperde steaks reg vir die oond
Bros gebraaide uieringe
Hoofgereg bedien met Bistro slaai

Franse Bistro slaai met eier,bros gebraaide spek en croutons op 'n mengsel van blare. Bedien met Heuning en Mostert slaaisous


By die nagereg het ek 'n kortpad gevat en klaar gebakte Rooifluweelkoeke aangekoop.  Dit was gelukkig baie baie lekker met 'n uitsonderlike makrolletjie krummel buitelaag.

Rooi Fluweelkoek met gekrummelde makrolletjie (macaroon) buitelaag
Die Gr. 11's staan reg om die nagereg te bedien
Perfekte afsluiting vir 'n Moulin Rouge aand - Dekadent en ROOI 
Die matrieks is gegroet, die nuwe Huiskommitee aangewys en daarna is Donderdag en Vrydag gebruik vir opruiming saam met die voorbereiding vir die naweek se HK opleiding.

"The show must go on!"