Pages

Wednesday 22 May 2013

Gunsteling Geregte

Om aan te sluit by die pos oor onthou kos, wil ek begin met 'n paar resepte wat die kinders se gunstelinge is.

Een van die min resepte wat ek nog nie verander of vernuwe het in die jare wat ek by die kombuis betrokke is nie, is "Barcelona vark".  Dis 'n Spaans geïnspireerde varkvleis gereg waaroor die kinders dol is, maar dit is nie die aantreklikste gereg op 'n bord nie, veral as kinders net dit wil eet en nie die bykosse saam opskep nie!  Daarom was daar al klagtes oor die koshuis se etes wat nie so aantreklik soos restaurant kos opgedis word nie.  Ons probeer nie 'n restaurant wees nie, eerder nader aan 'n huis!  maar ons doen ons bes. Die kinders noem die gereg "Husky" aangesien dit soos blikkies hondekos lyk, maar daar gaan nie 'n keer verby dat die komplimente nie instroom nie.  As dit lanklaas op die spyskaart was kom die versoeke in want hulle is "mal" daaroor.  Sommige vra die resep om huis toe te neem sodat Ma dit by die huis ook kan maak.

Blokkies varkvleis word in gegeurde koekmeel gerol voordat dit gebraai word.


oortollige meel of uitgesif voordat die blokkies in 'n warm pan gaan. 

Die blokkies word in kleiner hoeveelhede gedeel en goudbruin gebraai.

Die gebraaide blokkies word uitgeskep en warm gehou totdat alles gebraai is. 
 Alles word terug geplaas in die pan en die sous word bygesit om 'n heerlike ryk gereg te maak wat baie lekker is saam met rys.

Die resep is in normale huis porsie (6 porsies) sowel as grootmaat (240 porsies):

Barcelona Vark
6 Porsies        240 porsies

125 ml            2 kg                        Koekmeelblom
5 ml                 200 ml                   Sout
2,5 ml             100 ml                    Peper
1,2 kg              40 kg                     Vark goulash blokkies, (maer sonder sigbare vet)
50 ml              500 ml                    Kookolie

2                     10 - 15                    Uie, gekap
5 ml                 100ml                     Knoffel, fyn
250 g               2 x A10 blikke      Sampioene
1 blik               3 blikke                  Heel Tamatie, (kan vars tamatie gebruik) gekap
125 ml             4 liter                     Hoenderaftreksel, aangemaak
125 ml                                            Wit Wyn 
                                                         OF
                         500 ml                   Asyn of Suurlemoensap (ons het ongelukkig nie wyn om  
                                                        mee   te kook nie. 
5 ml                  100 ml                   Basielie, droog (kan vars gebruik)
                                                        Pietersielie, fyn gekap vir versiering

Metode:

Geur die koekmeelblom met sout en peper en bedek die vleisblokkies daarmee. 
Verhit die olie in 'n braaipan (in ons geval die kantelbraaier) en braai die vleis tot bros en bruin.
Verwyder die vleis en hou eenkant warm.
Braai die uie, knoffel en sampioene tot sag.
Voeg die tamatie, hoenderaftreksel, wyn (of asyn/suurlemoensap) en basielie by.
Verlaag die hitte en kook vir ongevee 2 minute.
Skep die vleis terug in die sous, bedek die pan en prut stadig tot sag en gaar.
Strooi gekapte pietersielie oor vir garnering.

Bedien met rys en komkommer- of mengelslaai.

Ongelukkig het my foto van die finale produk in die slag gebly.  Ek sal by 'n later geleentheid 'n foto byvoeg. Kombuismuis

Môre besoek ek die Good Food and Wine Show in die CTICC in Kaapstad vir nuwe inspirasie ens.
 

No comments:

Post a Comment