Pages

Wednesday 4 September 2013

Die Toetskombuis

Gedurende die laaste dae van die tweede kwartaal is die koshuis deeglik skoongemaak, vloere gepolitoer en gordyne netjies gemaak, reg vir die vakansiegaste wat oppad was.

Ons was gelukkig genoeg om Jenny Jacobs van DeliChef hier te kon kry vir opleiding van die kombuispersoneel.  Sy het hulle speserye en "mealfixers" gebring en die 4 vroue in die kombuis kon dit uittoets.

Johanna het 'n heerlike herderspastei gemaak, Gerty was op die Macaroni en Kaas, Sureya het 'n Tamatiebredie berei en Charmaine was by die frikkadelle.


Jenny besig om raad te gee en toesig te hou oor die kookprosesse

Johanna se geurige maalvleis vir haar Herderspastei met Charmaine wat uie braai vir haar frikkadelle
Charmaine vorm haar frikkadelle met Gerty wat toekyk en help

Sureya berei die wortels vir haar lekker Tamatie Bredie

Sureya in aksie by die Brediepot


Gerty se Macaroni-en-Kaas reg vir die oond
Johanna wys trots haar Deli Herderspastei

Geregte wat enige Deli trots sal maak, gereed vir bediening

Charmaine, Johanna, Jenny, Sureya en Gerty spog met hul resultate
Nadat ons die vorige dag vir die personeel by die skool middag ete voorgesit het, het hulle besluit om die terreinpersoneel van die skool te nooi vir 'n middag ete waar hulle uit hierdie geurige disse kon kies.  Dit was 'n redelike koue dag en almal was moeg gewerk so die ete is van harte verwelkom en geniet.


Die Einde is in sig

Die kwartaal word gewoonlik afgesluit met die skoonmaak van die koshuis nadat die kinders huistoe is.  Junie en Desember maand is "groot" skoonmaak wanneer daar werklik in elke hoekie en gaatjie skoongemaak word, vloere se merke deeglik verwyder word en Badkamers spesiaal ontsmet word.  Dit is "strip" (sterk middels wat alle ou politoer en merke verwyder), skrop en politoer van die oggend tot die aand.  

Binne hierdie harwar het ons ook vinnig Rose se verjaardag gevier met 'n gesellige koppie tee rondom 'n paar eetgoedjies voordat ons weer ingespring het.
Rose wat al meer as 40 jaar in diens is het haar verjaardag saam met ons gevier.  Sy groet ons teen die einde van die jaar so dit was die laaste keer dat Elize ons voorsanger die "Happy Birthday" kon insit en almal vir haar kon sing.
Die opvoeders by die skool is net so druk besig met punte en rapporte in hierdie tyd en ons het vir hulle middag ete gaan voorsit voordat hulle voortgegaan het met die middag se puntebespreking.
Die goed uitgerysde brooddeeg reg om in panne te gaan vir heerlike vars gebakte Plaasbrood.
Voorgereg was Gebakte Botterskorsie Sop bedien met vars Plaasbrood.

Plaasbrood uit die HDP oond
OONDGEBAKTE BOTTERSKORSIE SOP

2  groot Botterskorsies, gehalveer en pitte verwyder.  Bestryk die Botterskorsie met 'n mengsel van 50 ml Olyfolie, kaneel, gemengde kruie en bietjie knoffelvlokkies.  Bak dit in 'n warm oond by 180 grade tot sag genoeg om die vleis uit te skep.

Kap 1 ui fyn en braai, voeg dit saam met 2 wortels (in blokkies gesny) by botterskorsie en laat prut vir 3 minute.

Voeg 1,5 liter Hoederaftreksel by en bring tot kookpunt, prut vir 30 minute.  Proe aan die sop en geur met sout en peper na smaak.

Verpulp in 'n voedselverwerker en voeg 200ml room by.

Bedien met vars gebakte brood.

Beesbraaistuk is bedien met 'n tuisgemaakte mosterdsous, Uietert vir die vegetariers en ons gewilde Beet- en Broccoli Slaaie
Vegetariese Uie Tert
UIE TERT
10-12 porsies
Kors:

Maak 'n pakkie Cream Crackers fyn in die voedselverwerker en meng dit met 125 ml gesmelte botter of margarien.  Druk vas op die bodem van 'n groot tertbak.

Vulsel:

2               gekapte uie
1 bossie  gekapte groenuie
                 fyn gekapte grasuie (chives) opsioneel maar baie lekker

125 ml     gekapte vars pietersielie
250 ml     Cheddar kaas, gerasper
125 ml      fyn Parmesan kaas
125 ml      Feta kaas, gekrummel
200ml       Roomkaas

4               Eiers, geklits
125 ml     Suurroom
125 ml     Room

                 Sout en Peper na smaak
250 ml     Cheddar (ekstra om bo-oor te strooi)


Braai die uie, groenuie en grasuie saam tot net sag en gaar.  Laat effens afkoel.

Meng die Eiers, Suurroom en Room saam en voeg kase en pietersielie by.  Geur met sout en vars gemaalde swart peper.

Meng alles saam en giet in tertkors.  Bedek met lagie gerasperde Cheddar kaas.

Bak vir ongeveer 30 min by 180 grade.  Laat rus vir 10 min voor bediening.

(Gebraaide, gekapte Spek, gevlokte Tuna of Salm kan saam met die kase bygevoeg word as die tert nie vegetaries hoef te wees nie)
Van die orige deeg het Johanna ons bederf met heerlike vetkoeke in die kombuis.