Pages

Monday 10 June 2013

Beetslaai

Hierdie storie het 'n effense aanloop.  Ek het lankal terug gehoor van 'n "heerlike Beet en Feta slaai" wat op 'n onthaal voorgesit is.  Ek was nuuskierig maar is nie 'n groot slaaieter nie so dit het so in my agterkop gaan sit.  Ek het intussen soms resepte daarvoor gesien maar by gebrek aan vars beet het ek nooit by die probeerslag uitgekom nie.

Die afgelope paar weke is daar 'n landswye tekort aan geblikte beet (Ons gebruik die groot 3kg blikke) en die kleiner huishoudelike flesse is net te duur vir ons om aan te koop.  Desperaatheid dryf my toe om te begin vra vir vars beet, maar selfs dit is nie beskikbaar nie. Verlede week vra ek terloops weer, want hulle het gesê daar sal eers einde Junie selfs Julie eers weer beet beskikbaar wees.  Daar kry ek toe vars beet, nou wel nie die jong baba beetjies waarvoor my resep vra nie maar lekker vars.

Donderdag aand kyk ek toe Kokkedoor op Kyknet en daar noem hulle dat mens beet op sout in die oond moet bak vir die beste smaak.  Ek sit dadelik regop want ek het dan nou beet en so het ek dit nog nie gemaak nie.

So het dit gekom dat ek deur 'n paar resepte en hierdie raad my Maandag beetslaai bymekaar geslaan het.  Goeie kommentaar teruggekry, die kinders het net die Feta vinniger as die res van die slaai geskep, so volgende keer meer Feta?


Vars Heel Beet is op 'n laag growwe sout gepak en vir 40 min in die stoomoond gebak teen 160 grade totdat dit sag was

Johanna skil die gaar gebakte beet
Beet in repies gesny

Vars Beetslaai met Feta
Ek het nie vars Roket of Spinasie blare gehad nie, so gewone blaarslaai is onder gebruik.
 RESEP:

Vars beet, oondgebak op 'n laag sout tot sag en gaar
Laat effens afkoel maar nie yskoud
Skil en sny die beet soos verkies
Plaas 'n laag roket of baba spinasie blare onder in bak
Skep die beet bo-op en meng liggies
Gooi die sous oor (sien resep onder)
Rangskik Feta en neute bo-op en bedien dadelik.

Slaaisous:

125 ml       Balsamiese Asyn
5 ml            Suiker
125 ml       Olyfolie

Roer oor medium hitte totdat die suiker opgelos is. 
Bring tot kookpunt en kook totdat dit effens gekondenseer is.
Laat afkoel en roer olyfolie by.


Vars Beetslaai met Feta en Balsamiese Asyn

Wednesday 5 June 2013

Eksamen Tyd !!!

EKSAMEN TYD is 'n tyd in ons program wat met ongekende spanning gepaard gaan.  Almal is besig met finale voorbereiding voor hulle rekenskap gee van die kwartaal (halwe jaar) se werk. Elkeen probeer vir oulaas die prentjie op die rapport mooier inkleur.  Dit beteken stilte in die gange (die hele dag!) sodat almal 'n kans kry om te fokus.  Dit beteken ongewone gedrag by meeste mense, skielik is jy lus vir dinge waaraan jy nooit aandag gee nie, soos draf of ekstra koffie drink of flieks kyk op jou laptop.  Op 'n manier het baie van ons hierdie instink om onsself te ondermyn... jy weet jy moet fokus en die berg werk happie vir happie wegwerk, maar die versoekings is so groot, hulle roep soooo hard.  Deur 'n leeromgewing te skep word almal gemotiveer om harder te werk, daarom gee meeste ouers toestemming dat leerders op hul "blok" dae by die koshuis studeer.

Groepies sit met tye saam in die eetsaal om mekaar te help, baie keer van die seniors wat juniors bietjie help.  Dit is die gees van HDP, dit is die dinge wat 'n positiewe atmosfeer skep en op die ou einde almal laat beter voel.  Soms kom tutors in om ekstra lesse aan te bied, dit is veral wiskunde wat hier aandag kry.

Die ander kant van die munt is dat eksamen tyd ook beteken die vakansie is op hande, en HUIS TOE GAAN is 'n werklikheid en saam met die spanning is die verlange en afwagting soms amper tasbaar.  Daar word begin met wegpak en weggooi en inpak en opruim en die besluite van wat moet saam en wat kan gestoor word vir volgende kwartaal.  Voor ons, ons kom kry begin die busse en vliegtuie vertrek en kan almal bietjie huiskos gaan eet, kans kry om stories uit te ruil en mekaar as gesin weer te waardeer.  
Breektyd word gebruik om bietjie te ontspan

Koffiedrink saam met vriende is net die ding vir breektyd

Die koue en konsentrasie maak mens honger en 'n roosterbroodjie is altyd lekker.

As die honger (of die spanning) te erg raak is die kombuis altyd daar vir 'n lekker broodjie

Ons is uiteindelik op ons nuwe spyskaart, ek het al die nuwe geregte ingesluit en ons verskeidenheid lyk definitief beter.  Die kinders geniet die meer moderne geregte en die nuwe smake, hulle sit al versoeke in as die geregte nie gou genoeg herhaal word nie.  Dit maak ons werk 'n plesier en laat mens nog harder probeer.  Ek werk nog hard aan my vaardighede met die kamera en hoop om die gehalte van my foto's nog baie te verbeter.

Maandag het ons nog gesteier van die skielike winterweer wat ons die naweek getref het, met hael wat Sondag oor amper die hele Kaapse Skiereiland geval het.  Ons het die week begin met heerlike Kerriebredie bedien met groente en slaai en vir aandete was dit die gewilde HDP Spagetti Bolognaise. Gister was dit "deconstructed" Hoenderpastei en gisteraand het ons gesmul aan Ribburgers. 
Hael lê Sondag wit in Kaapstad
PRAGTIGE Wintersdag op Stellenbosch
Vandag het die weer opgeklaar en die son het deurgekom en dit is een van die heerlikste vars winterdae in Stellenbosch. Ons bedien vir middag ete heerlike Oosterse Soetsuur Vark saam met Kapokaartappels, Kopkoolgebak en mengelslaai en natuurlik was dit Woensdag so Johanna het gesorg vir heerlike gebakte Klapperpoeding met tuisgemaakte vla.  Ek eet kopkool gewoonlik net in roerbraai geregte, maar Johanna tower die gekerfde kopkool  (gemeng met bechamel sous en Bacon Kips) en 'n bo-laag van Kaas en Bacon Kips om tot 'n onweerstaanbare gereg.  Die geur hang in die kombuis en jy kan nie anders as om te proe nie en dan weet jy, dis te laat, jy sal die kopkool eet.

Aartappels kook in kantelbraaier om verwerk te word na donsige Kapokaartappels
Begin van die heerlike Kopkool gereg
Gemarineerde varkvleisblokkies word liggies gebraai en warm gehou
Soetsuursous met vars Oosterse geure word berei voordat die vleisblokkies bygevoeg word om  heeltemal gaar te kook
Middagete - Oosterse Soetsuurvark met donsige Kapokaartappels, Kopkoolgebak en Mengelslaai
Vrugte en Klapper Poeding met Tuisgemaakte vla
Vanaand eet ons 'n heerlike mielie-vetkoekie bedien met kaas en stroop saam met 'n gebraaide worsie en heerlike tuisgemaakte sop. 











Maryline word 40

Maryline
Een van ons geliefde kombuisassistente, Maryline Samuels, het vandag 40 geword.  Die kinders het die dag begin deur vir haar te sing en drukkies uit te deel.  Ons het heerlik teetyd saam met haar gehou en vir haar 'n bos goudgeel rose gegee, voordat ons haar die middag af gegee het sodat sy vanaand saam met haar familie kan fees vier.



Almal geniet 'n koppie tee saam vir Maryline se verjaardag

Elize en Johanna in vrolike luim
Maryline geniet die tydjie saam met ons almal

Self Nora wat altyd so saggies praat en baie stil is, geniet die tydjie gate uit