Pages

Friday 26 July 2013

Die Laaaang Winter Vakansie


Die kwartaal het onverwags vinnig uitgeloop en daar moes 'n hele paar dinge gebeur voordat ons die koshuis kon oorgee vir die vakansieverhuring.  Dit was ontruim aan die kinders se kant, tasse pak vir saamneem en ander goed in die kas of taskamer bêre.  Dit was skoonmaaktyd en groettyd.  Daar is spanning (eksamen, rapporte) maar ook opgewondenheid (huis toe gaan, vakansiebestemmings) by die kinders maar ook ons het die spanning van die koshuis nagaan en regruk vir die vakansiehuurders wat oppad is (die vensterperiode waarin hierdie prosesse moet geskied is bitter klein), die bestellings plaas soos nodig gaan wees, ens. maar ook ons eie opgewondenheid oor 'n rustyd en bietjie "huistyd".

Die meisies skrop en skuur en strip en polish van die môre tot die aand, maar het nog steeds tyd vir 'n glimlag en 'n grappie op sy tyd.  Ons is bevoorreg om 'n span dienspersoneel te hê wat soos een man inspring en die werk gedoen kry soos en wanneer nodig.  In hierdie tyd het ons nog 'n paar ekstras ook ingepas.

Eerste het ons twee oud-inwoners, Hanri en Elizabeth Joubert, terugverwelkom. Hulle was vir twee jaar hier as toesigpersoneel voor hulle hul vlerke na Suid-Korea gesprei het.  Ek het so 'n kombinasie van Suid-Afrikaanse kookkuns en die van Korea gemaak.  Ek moet erken by gebrek aan die nodige kennis en produkte het die Koreaanse slaai 'n eg Suid-Afrikaanse kinkel gekry, maar dit is baie goed ontvang.


Daleen het vir ons die lekkerste soutkoekies met kaas, droëwors en soetrissie op die tafel gehad.


Hierna was dit tyd vir die Koreaanse slaai.
Die mielies is gebruik ipv bamboeslote

2 Slaaisouse is gemaak (natuurlik met aangepaste resepte)

Goeie geselskap en wyn
Koreaanse slaai
(Op die SA manier)
Marinade:
                   50 ml  Wynasyn
                   50 ml   Soja sous
                   3          Knoffelhuisies
                   1          Groenui, fyn gekap

Meng alles saam in groot bak.  Sny 2 - 4 hoenderfilette in blokkies en bedek met marinade. Laat staan vir omtrent 30 min.
Geur 250 ml Mielieblom met rissie poeier of vlokkies en bedek die hoenderblokkies daarmee.  Skud die oortollige af en braai in warm olie tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Hierby kom verskeie ander bestanddele, soos bamboeslote wat ek met mieliepunte vervang het.  Die Koreaanse gepiekelde geel radys het ek vervang met pynappel en mango blokkies.  Die seegras het ek mangetout gebruik en die gekapte komkommer, ui en aartappelblokkies was bekend genoeg om net so by te voeg.  Die aartappels is egter die pers soort wat ek toe nie kon kry nie, so dit word toe sommer croutons.

Daar is sommer twee slaaisous by hierdie slaai.  Ook hier het ek vrylik aanpassings gemaak maar die resultaat was baie lekker en die twee souse is baie verskillend en werk goed saam.

Soja slaaisous:

125 ml    Sojasous
60 ml      Suiker
300 ml    Wynasyn (kon nie ryswynasyn in die hande kry)
                Rissie vlokkies of poeier
250 ml    Olyfolie (ipv sesame olie)

Gooi die eerste 4 bestanddele in 'n voedselverwerker en meng goed.  Gooi die olyfolie in 'n dun straaltjie by terwyl die menger aan is.  Verkoel.

Hierdie sous kan ook by steak en roerbraai geregte gebruik word.

Sesame vinaigrette:

(Wat eintlik pine nuts met sesame olie moes wees)

60 ml    Sesame saad
50 ml    Kookwater
20 ml    Olyfolie
50 ml    Wynasyn
             Sout en Swartpeper

Meng alles saam in voedselverwerker tot net gemeng.  Moet growwe tekstuur hê.

Alles bedien op 'n bed van gemengde slaaiblare en roket.

Die verrassing van die dag was dat my "lamskenkels" toe heel lamsnekke was.  Hulle is toe met rooiwyn en geurmiddels in die oond gepamperlang tot hulle sag was en toe is worteltjies en sampioene bygevoeg vir afronding.  Dit is bedien met gebarste aartappels en pampoenpoffertjies.

Lamsnekke in pot in oond gestowe

Pampoenpoffertjies met karamelsous (gemaak met Botterskorsie)
Gebarste Aartappels (Kook die aartappels tot net sag.  Druk plat met potato masher tot dit bars.  Bedek met olyfolie en gooi roosmarynblaartjies by.  Geur met Sout en Peper.  Bak in oond tot krakerig
  
Lamsnek met aartappel en pampoenpoffertjies
Ons het die ete afgesluit met sjokolade cinnabuns en Roomys met Madagaskar vanielje van Woolies.

Dit is regtig so lekker as oud-inwoners hul pad weer terugvind en mens kan sien dit gaan met hulle goed.

Hou die spasie dop vir nog 'n paar goedjies waarmee ons besig was voor en in die vakansie.