Pages

Saturday 4 May 2013

ONTHOU KOS

Die afgelope tyd lees en hoor ek oral van onthoukos.  Van die nuwe kookprogram op Kyknet, Kokkedoor, tot by Nataniël in die Sarie Kos tydskrif gaan dit oor ONTHOU!  Toe luister ek toevallig na die huiskok op RSG en sy praat van 'n Grondboontjiebotter-Broodpoeding.  Sy meen toe die onthou van grondboontjiebotter skoolbroodjies is nie 'n goeie een nie.  Dit het my opgeval want my oudste kind het haar hele skoolloopbaan net dit gevra en noudat sy na jare begin skoolhou het vra sy weer elke oggend 'n grondboontjiebotter en stroop broodjie vir pouse.  Vir ons is dit 'n lekker onthou, 'n oomblik van nostalgie amper, beslis nie sleg nie.

Ons het die winter ingewy met melkkos die ander aand en die opmerkings van "Julle laat my huis toe verlang!" en "Dis my ma se kos diè" het my weer gebring by die ONTHOU!  Die wonderlike ding van 'n gereg is dat dit sekere gevoelens oproep, herinneringe terugbring en jou laat onthou van samesyn en goeie tye.  Ek wil graag hê ons kinders moet ook sulke onthoukos hier eet, dat hulle goeie herinneringe sal hê van ten minste 'n gunsteling gereg of twee.

Ek weet die "Stew" is legendaries as die gereg wat moet verdwyn.  Ter verdediging wil ek noem dat ons regtig goeie stowe geregte en bredies maak en die geure afwissel.  In die winter is dit vir my trooskos, vullende warmte wat jou pantser teen die ysige winter en behalwe dat dit voedsaam en ekonomies is, is daar talle kinders wat dit wel geniet.  Ek het so paar jaar terug gevra vir spyskaart voorstelle, die drie prominente versoeke was Maltabella pap, Stywe pap en sous by die Boereworsrolle en.....ja, glo dit of nie! Tamatiebredie. 

Ek is seker elke mens het sekere kos wat hy of sy dadelik kan oproep as onthou kos, ek wil konsentreer op die lekker onthou.  Die onthou van my pa wat vleis bewerk of heuningkoeke uitwaai (al eet ek nie heuning nie); My ma se vetkoek (omtrent die enigste goeie kos wat sy kon maak) tot die entoesiasme van die koshuiskinders oor die Sondagaand "Hotdogs" en Hoenderburgers wat vir my soms baie vervelig voel.

Die onthou van braaivleisvure is sekerlik die een wat meeste van ons gemeen het en die braaie wat ons al hier gehou het was nog altyd 'n sukses en verdien definitief 'n onthou plekkie.  Toe die koshuis kleiner was kon ons maklik op 'n Woensdag aand op die wal braai, of Sondag middag in die vierkant sosaties op die kole gooi.  Nou maak die seuns Saterdag aande vuur en almal wat wil deel kom braai van marshmallows en braaibroodjies tot choppies, wors en skilpadjies.  Maak nie saak of jy braai of nie, die kuier om die vuur bly een van die lekkerstes.

Een van die oud-leerders skryf nou die dag hy onthou die pienk melk saans in studiebreuk.  Daar was 'n probleem om dit in die hande te kry en ons moes noodgedwonge bly by warm sjokolade, Milo, Koffie, Tee en Koeldranke.  Ek het bietjie vergeet maar ek sal sekerlik weer die pienk melk terugbring en dalk nog onthou oomblikke laat ontstaan.

Ek hoop almal het hope goeie onthoue en wonderlike koservaringe.saam met julle geliefdes en gesinne.

Omdat Woensdag 'n vakansie dag was het ons besluit om Dinsdagaand bietjie spesiaal te maak.  Ons het (soos jare terug) die kos op die tafels geplaas en kinders het nie nodig gehad om in rye te staan vir opskep nie.  Ek het Antipasto borde beplan met items wat beskikbaar is en wat ons normaalweg bedien.


Johanna maak seker daar is genoeg vir elke tafel.

Die begin van die Antipasto borde. Marlene kyk na die 50+ skinkborde wat gepak moet word, dit lyk na 'n onmoontlike taak maar ons byt vas

Die eerste borde begin vorm aanneem
Die Antipasto borde gereed om tafels toe gedra te word.  Teen hierdie tyd was almal wat by die kombuis ingeloer het al erg opgewonde

'n Deel van die kombuisspan wat hierdie bederf moontlik gemaak het.  Vlnr is Wilna, Johanna, Sureya en Jeanette

Die kinders het soos altyd ingespring en ons werk ligter gemaak.  Mike was een van die gewillige helpers
 
Omdat baie nie Woensdag by middagete sou wees nie het ons die nagereg na Dinsdag aand verskuif.  Ons het aangekoopte vlaskywe getoets....BAIE SOET!
'n Spesiale aanbod van ons vleisverskaffer het ons in staat gestel om Donderdag heerlik geroosterde Biefstuk met romerige Sampioensous, krakerige Skyfies, Soetwortel en Mengelslaai te bedien

Donderdag het soos 'n Maandag gevoel en was so blou soos die blouste een nie kan wees nie, maar GELUKKIG is dit toe Vrydag en ons draf die naweek binne.  
Dis Saterdag en die sportspanne moes reeds 5h15 ontbyt eet want die busse het om 5h45 na Montagu vertrek vir 'n dag van sport en saamwees wat onthou sal word. Daar is muffins, joghurt, Pro Nutro, Rice Krispies, roosterbrood, ens. voor hulle op die busse gaan klim.

Ons wag hulle in met heerlike Hoender en Groente Roerbraai en vanaand bederf ons met sappige Hamburgers.

No comments:

Post a Comment