Pages

Wednesday 17 April 2013

WINTER IS HIER

Die eerste regte WINTER WEEK.

Die weer trek toe, dis elke dag kouer en vandag val die reën al hoe harder en byt die koue en is die lug donker en die wolke swaar van die ongestorte reën.  

Maandag kry ons besoek van Feedem kontrak spyseniers wat ons middagete kom bywoon.  Ons het weer 'n nuwe resep en Johanna (kok) is siek!!! Gerty berei die Thai Green Chicken Curry en dit kom besonder lekker.  Ek was benoud om dit in so 'n groot maat te maak maar was aangenaam verras en baie komplimente het ingekom.  Daarby is roerbraai groente en die baie gewilde vars pynappel en piesangslaai bedien.

Thai Green Chicken Curry op die Huis du Preez manier.  Ons het die resep aangepas en na smaak verander.  Ek sal die finale resep later opsit
 Aandete sonder 'n kok veroorsaak baie spanning en 'n paar haakplekke, maar gelukkig spring die span vinnig in as daar krisis is en baie hulp is gegee met die aandete se voorbereiding voor die half-dag span huis toe is.  Aandete was ciabatas met ham, kaas en sampioene bedien met mielie salsa en mengelslaai.
Ciabatas reg vir oond
Charmaine bak gou ciabatas voordat sy huis toe gaan

Mieliesalsa en gebraaide sampioene



MIELIE Salsa

Braai die mieliepitte liggies in klein bietjie olyfolie
Tamaties, gekap
Ui, gekap
Green Pepper, gekap
Roket blare, fyn gesny
Balsamiese Asyn
Suurlemoensap
Sout & Peper
Fyn Komyn

Meng die mielies, tamatie, uie en Roket
Maak net effens nat met bietjie suurlemoensap en Balsamiese Asyn
Geur met sout en peper en sit knippie fyn komyn by

 Dinsdag is Tamatie bredie en Johanna is nog steeds siek, maar ons hou alles onder beheer.
Woensdag is darem middel van die week en mens begin uitsien na die naweek wat nader kruip, en dit is mos darem POEDING DAG!

Hoenderdye word reggekry vir oond
EN net toe ons dink alles is klopdisselboom.....toe breek ons getroue staatmaker oond!!! KRISIS maar ons maak planne en die kos is (gelukkig) betyds op die tafel, poeding en al!
 
Hoender (aangepaste resep agv stukkende oond)

Gerty maak lekker regte vla op 'n koue reën dag

Romerige Vla vir 250 plus
Brandewyntert met vla
Vulcan se tegnikus was gelukkig vinnig hier en ons getroue "Rodger" (die oond) is weer volstoom aan die werk vir aandete.  Wiskunde olimpiade bus vertrek reeds 17h00 so ons begin aandete bediening vanaf 16h30.  EN EN EN Vanaand is MELKKOS met kaneelsuiker!, regte winter verlangkos op sy beste!

Elize, Maryline en Juanita besig met die skottelgoed 
 
Daar is altyd grappies en 'n goeie gees in die kombuis, veral met opruim tyd!

Lettitia besig om borde weg te pak tot volgende ete            

Ta Ta Somer - HALLO Winter


Ek lees die afgelope ruk 'n hele paar olifant stories en vind dit interessant want hierdie reuse diere het my nog altyd gefasineer.  Toe hoor ek toevallig 'n aanmerking wat ek eintlik ken.....Hoe eet jy 'n olifant? Die antwoord:  Happie vir happie.  

Nie dat ek ooit al daaraan gedink het om 'n olifant te eet nie, maar die idee van iets so groot dat mens nie kans sien daarvoor nie en tog as jy dit bietjie vir bietjie neem, oorwin jy die olifant!  Die laaste tyd (weet nie of dit die komende matriekafskeid is nie) kontak ouers en kinders my oor ....ja.....gewigsverlies by tieners. Vrouens is mos maar altyd bewus van die kilogramme wat ons wil/moet/gaan verloor en vir tieners kan mens dit seker maklik maal met 10 want hulle is so selfbewus oor hul liggame wat so vinnig verander.  Mens dink ook dadelik dis net meisies maar die seuns let al hoe meer op wat hulle eet.

My pa het altyd gesê 'n koshuiskind is 'n eetlus met 'n vel om en hy het dit so geniet as die koshuis kinders by die huis aankom en weglê aan wat ook al voorgesit word. Tiener seuns is nog net so onversadigbaar soos altyd, maar jy kan nie net meer brood en konfyt gee om die honger te stil nie.  Ons gee kinders die keuse van wit of Lae GI brood en maak die aanbod aantreklik deur 'n keuse tussen gewone volgraanbrood, saadbrood en heuning en hawermout brood.  Dit is opmerklik hoe die balans tussen die brode verander en die witbrood bestelling al minder word terwyl die res styg.  Ek glo dis 'n kwessie van smaak wat ontwikkel word saam met die bewustheid van gesond eet.  By die seuns dink ek gaan dit meer oor sport deelname en die "six pack" waaraan hard ge"gym" word terwyl die meisies wil mooi lyk in die spieël.

Ons werk met minimum olie en vet in die kombuis.  Vleis, ook maalvleis, word maer bestel, groente word gestoom en slegs die pampoen en patat kry suiker oor.  As ons bv. skorsies bedien, word die suiker en margarien apart bedien sodat elkeen kan besluit waarvoor hy/sy kans sien.  Soms bederf ons bietjie met skyfies, gebraaide aartappel of vetkoek maar vis, hoenderfillette, burgers, ens. word alles in die oond gaargemaak sonder enige olie.  Ek reken die kinders sal my kruisig as ek Sondagmiddag se braai aartappels wegneem, (daar was al trane daaroor).  As ons bietjie olie by groente gebruik omdat dit nie anders kan nie, is dit olyfolie van goeie gehalte.  Elke ete het ook 'n vars mengelslaai van een of ander aard en elkeen het die keuse wat hy/sy gaan eet.  So ons doen alles wat ons kan om die kos so gesond en smaaklik moontlik te berei en laat die keuse aan die eters oor.  

My raad is as iemand werklik 'n gewigsprobleem het, moet daar 'n wilsbesluit wees om iets te verander.  Daar is nie towermiddels teen die vetjies nie, mens moet daardie olifant maar happie vir happie eet en nie moed verloor as jy langs die pad so bietjie afdwaal nie.  Jy moet kyk wat vir jou lyf werk en altyd onthou....Jy is wat jy eet!

Ons Somer het vinnig tot 'n einde gekom en die nat Stellenbosch Winter is met ons.  Ek voel nog nie heeltemal reg daarvoor nie, maar ons spyskaart is besig om stadig te verander (soms vinniger met nuwe resepte wat getoets word) en dit raak bredie tyd en vanaand eet ons melkkos en die soppe staan nader en wag op volgende week se spyskaart.

EERSTE NAWEEK VAN DIE KWARTAAL!

Die eerste week van die kwartaal het om gevlieg en die naweek was op ons met 'n Netbal toernooi Vrydag en Saterdag hier op ons bane.  

Vrydag was weer tyd om nuwe gereg te toets.  Daar is twee vereistes vir 'n nuwe resep om gebruik te word.  Eerstens moet die kombuis dit kan behartig itv voorbereidings tyd en toerusting en Tweedens moet dit goed geëet word (ek hou die afval bak dop om dit te monitor).
Vrydag aand het ons 'n eenbak gereg met hash browns en varkworsies getoets.  Ek moet sê ek het my bedenkinge gehad maar dit was heerlik en is goed ontvang.



Eenbak Hashbrown gereg
100 porsies 

 2 x 6kg     Hashbrowns


5 kg           Varkworsies
5-6             Uie, gekap
2                Groen Soetrissie, gekap

1,5 kg        Cheddar Kaas, gerasper

5 liter Melk
1 liter Meadowland room
40 Eiers
Sout, Peper en Gemengde Kruie

Maak die worsies halfgaar in oond sodat dit makliker sny
Sny die varkworsies in stukkies en braai saam met ui en groensoetrissie
Pak ‘n laag hashbrowns onder in bak en bedek met worsiemengsel
Pak weer hashbrowns bo-op
Strooi kaas oor
Klits die melk, room en eiers saam en geur.
Gooi oor die bakke en bak by 180 grade tot gestol, ongeveer 30-40 min


 Die Rugby en hokkie spelers (meerderheid van die inblyers) het vroeg vroeg Saterdag oggend vertrek en ontbyt is geskuif na 7h30. Middagete was Soetsuur Vark met rys en slaai wat baie baie lekker was en Saterdag aand was die immer gewilde Chicken Fillet Burger se beurt.

Sondag het ons Oondgebraaide Biefstuk met goudbruin gebraaide Aartappels, Oondgeroosterde groente, Coleslaw en Sondag Mengelslaai bedien met Gebakte Kaaskoek en vrugte as nagereg.  En die naweek word tradisioneel afgesluit met 'n Koshuis Hotdog.  Ek het avokadopere gehad om uit te sit en ek dink nie sjokolade sou die kinders meer opgewonde gemaak het nie.




Vlnr Maryline ruim op terwyl Charmaine en Marlene die Sondag slaaiborde afrond met Feta kaas
 
Oondgebraaide Biefstuk met Goudbruin Braaiaartappels, Oond geroosterde Groente en Slaai

Gebakte Kaaskoek vir Poeding




Wednesday 10 April 2013

Vandag kon ons die herfs aan die vroegoggend koue en die flou sonnetjie voel.  Vir middag ete het ons 'n groot gunsteling, Beesvleis en Groente Roerbraai gehad.  Dit is bedien met Rys, mengelslaai en 'n nuwe resep (vanaf my goeie vriendin Gerda) vir Broccoli Slaai wat baie goed ontvang is.
Beesvleis en Groente Roerbraai is altyd 'n wenner

Die resep vir die Broccoli slaai is eintlik baie maklik aangesien die broccoli net so rou gebruik word.
SOUS: Gebruik gelyke hoeveelhede Asyn, Suiker en Mayonnaise.
              Roer die Asyn en suiker op medium hitte tot die suiker opgelos is en bring tot kookpunt.
              Laat afkoel en roer Mayonnaise by.
              Meng rou broccoli wat in klein blommetjies gebreek is met rosyne, gekapte rooi soetrissie en die sousmengsel
              Skep in 'n slaaibak en strooi bietjie gekapte neute oor net voor bediening.
              Die slaai kan 'n paar dae in die yskas gehou word.

Vegetariers is veral baie lief vir hierdie slaai.
             
Gerda se Broccoli slaai
 Vanaand was dit weer ietsie nuuts wat ons probeer en dit het baie goed gegaan behalwe dat die avokadopeer wat daarby bedien moes word nog kliphard was en ons dit maar moes oorhou vir 'n ander geleentheid.
Die begin van aandete.  Gaar Hoender gemeng met gekapte (blik) tamatie, gekapte ui, mayonnaise en gerasperde kaas

Quesadillas reg vir die oond


Getroue oond (Rodger) gelaai en reg om sy magic te doen 

Aandete is gereed!



Die nuwe Quesadillas (Gevulde Tortillas) se resep:

Fyn, gaar hoender word gemeng met cheddar/mozzarella kaas, gekapte spring onions, geblikte gekapte tamatie en mayonnaise.
Plaas tortillas op oondrakke.  Smeer die mengsel bo-op 'n tortilla en bedek met 'n tweede tortilla.
Druk goed vas  en bak in oond by 180 grade totdat kaas gesmelt is.
Sny in kwarte en bedien met mengelslaai en avokadopeer slaai of quagamole.  



Monday 8 April 2013

Die NUWE Kwartaal

Net so vinnig as wat die eerste kwartaal met al sy bedrywighede verby is, is die begin van die nuwe kwartaal na 'n kort breuktydjie op ons.

Die winter kruip nader en die heerlike nat Paasnaweek-weer het ons herinner dat somers nie vir altyd aanhou nie.  Ons skakel nou geleidelik oor na winter klere en BELANGRIK.....!!! Ons Winter Spyskaart.  Meer bredies en soppe en minder slaaie en vrugte (wat skaarser raak) en Hot Chocolate en Milo in die studiebreuk saans.

Ek is hard besig om nuwe idees en resepte uit te toets en wil graag ons spyskaart so bietjie opkikker.  Nie net om verveling by die kinders te voorkom nie maar die personeel hou ook van nuwe uitdagings en motivering.  Ek gaan ook probeer om (behalwe die weeklikse spyskaart wat in die kombuis beskikbaar is) 'n daaglikse Spyskaart in die Eetsaal op te sit.


Vandag het ons kinders terug verwelkom met 'n "deconstructed" Hoenderpastei wat heerlik was en die ry vir "seconds" was gou baie lank.

Ek moet begin om my resepte hier te deel, maar het nog paar punte om uit te sorteer.

Die Hoenderpastei het regtig goed gewerk en die resep sal definitief deel van ons argief word.


“Deconstructed” Hoenderpastei
250 Porsies
Vulsel:

40 kg                Hoender borsies, in klein stukkies gesny
                        Sout, Peper, Tiemie, Basil, Roosmaryn
                        Olyfolie
                        Margarien
2 Blikke           Sampioene
8 – 10              Uie, gekap
                        Knoffel
5 x 250 ml       Meel
8 liter             Hoender Aftreksel
500 ml             Balsamiese Asyn
500 ml             Suurlemoensap
5 liter               Melk
2 liter               Meadowland
4 kg                 Baba Wortels
4 kg                 Ertjies 

Geur die hoenderstukke met sout en peper en braai liggies in olyfolie.  Haal die hoender uit die pan en smelt margarien daarin.
Braai die sampioene, knoffel, kruie en uie tot net sag.
Meng die meel in totdat dit die vloeistof absorbeer.
Voeg die hoenderaftreksel, wyn, melk en Meadowland by terwyl geroer word.
Sit die hoender terug in die pan saam met die wortels en ertjies.
Laat goed deurkook tot sous lekker verdik is.
Proe en voeg geursel by as nodig.   

 Skons:
Maak Pilsbury se pre-mix Skonmengsel slap aan en voeg bietjie Italiaanse kruie by.
Skep lepelsvol skonmengsel op gesmeerde bakplaaitjies en bak tot gaar volgens aanwysings.
Bediening van die pastei:
Skep ‘n lepelvol vleismengsel op die bord en plaas ‘n skon bo-op.
Bedien met groente.

Vanaand eet ons heerlike Bacon Carbonara Pasta en luister hoe die reën oor die Boland uitsak.






'n EINDE en 'n BEGIN....

Die einde van die kwartaal het vinniger op ons af gesnel as wat mens kan dink.  Die lang naweek net voor die einde aanbreek het ons met tussen 7 en 11 kinders deurgebring.

Die hoogtepunt was die Cape Epic fietstoer wat ons gronde die hele week beset het en ons kon aanskou hoeveel voorbereiding in so 'n groot geleentheid ingaan.
Duisende klein tentjies verrys op ons rugbyvelde

Begin van die groot tent op die hokkieveld


Die rustigheid en 'n PRAGTIGE dag het my en die meisies kans gegee om bietjie op die strand te gaan loop.
EN die brawes het die koue water aangevat :-)



Die Milkshakes was HEERLIK!!!



 Die laaste week was 'n warboel van kospakkies vir kinders wat opgewonde op busse moes klim vir 'n kuiertjie by die huis ........en en en.....Lekker vakansie

Ons het verskeie toerspanne (Rugby, Krieket en Netbal) verwelkom en verversings vir hulle gemaak. 

Johanna en Juanita saam  met ander besig om Paninni's te vul

Panninis gemaak vir Argentynse toerspan

Pannini met Geroosterde Beesvleis met tuisgemaakte Mosterdsous, Kaas, Slaai en Tamatie


Verskeie o/14 Rugbyspanne het oor die Paasnaweek by ons gebly om deel te neem aan die toernooi wat aangebied is.  Van Sondag af was daar ook o/17 Netbal spanne uit alle oorde om aan Maties Netbal se programme deel te neem.

Teen Vrydag was die koshuis weer leeg en ons kon skoonmaak en alles regkry voordat ons eie kinders weer Sondag ingetrek het vir die nuwe skof wat wag.