Pages

Friday, 26 July 2013

Die Laaaang Winter Vakansie


Die kwartaal het onverwags vinnig uitgeloop en daar moes 'n hele paar dinge gebeur voordat ons die koshuis kon oorgee vir die vakansieverhuring.  Dit was ontruim aan die kinders se kant, tasse pak vir saamneem en ander goed in die kas of taskamer bêre.  Dit was skoonmaaktyd en groettyd.  Daar is spanning (eksamen, rapporte) maar ook opgewondenheid (huis toe gaan, vakansiebestemmings) by die kinders maar ook ons het die spanning van die koshuis nagaan en regruk vir die vakansiehuurders wat oppad is (die vensterperiode waarin hierdie prosesse moet geskied is bitter klein), die bestellings plaas soos nodig gaan wees, ens. maar ook ons eie opgewondenheid oor 'n rustyd en bietjie "huistyd".

Die meisies skrop en skuur en strip en polish van die môre tot die aand, maar het nog steeds tyd vir 'n glimlag en 'n grappie op sy tyd.  Ons is bevoorreg om 'n span dienspersoneel te hê wat soos een man inspring en die werk gedoen kry soos en wanneer nodig.  In hierdie tyd het ons nog 'n paar ekstras ook ingepas.

Eerste het ons twee oud-inwoners, Hanri en Elizabeth Joubert, terugverwelkom. Hulle was vir twee jaar hier as toesigpersoneel voor hulle hul vlerke na Suid-Korea gesprei het.  Ek het so 'n kombinasie van Suid-Afrikaanse kookkuns en die van Korea gemaak.  Ek moet erken by gebrek aan die nodige kennis en produkte het die Koreaanse slaai 'n eg Suid-Afrikaanse kinkel gekry, maar dit is baie goed ontvang.


Daleen het vir ons die lekkerste soutkoekies met kaas, droëwors en soetrissie op die tafel gehad.


Hierna was dit tyd vir die Koreaanse slaai.
Die mielies is gebruik ipv bamboeslote

2 Slaaisouse is gemaak (natuurlik met aangepaste resepte)

Goeie geselskap en wyn
Koreaanse slaai
(Op die SA manier)
Marinade:
                   50 ml  Wynasyn
                   50 ml   Soja sous
                   3          Knoffelhuisies
                   1          Groenui, fyn gekap

Meng alles saam in groot bak.  Sny 2 - 4 hoenderfilette in blokkies en bedek met marinade. Laat staan vir omtrent 30 min.
Geur 250 ml Mielieblom met rissie poeier of vlokkies en bedek die hoenderblokkies daarmee.  Skud die oortollige af en braai in warm olie tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

Hierby kom verskeie ander bestanddele, soos bamboeslote wat ek met mieliepunte vervang het.  Die Koreaanse gepiekelde geel radys het ek vervang met pynappel en mango blokkies.  Die seegras het ek mangetout gebruik en die gekapte komkommer, ui en aartappelblokkies was bekend genoeg om net so by te voeg.  Die aartappels is egter die pers soort wat ek toe nie kon kry nie, so dit word toe sommer croutons.

Daar is sommer twee slaaisous by hierdie slaai.  Ook hier het ek vrylik aanpassings gemaak maar die resultaat was baie lekker en die twee souse is baie verskillend en werk goed saam.

Soja slaaisous:

125 ml    Sojasous
60 ml      Suiker
300 ml    Wynasyn (kon nie ryswynasyn in die hande kry)
                Rissie vlokkies of poeier
250 ml    Olyfolie (ipv sesame olie)

Gooi die eerste 4 bestanddele in 'n voedselverwerker en meng goed.  Gooi die olyfolie in 'n dun straaltjie by terwyl die menger aan is.  Verkoel.

Hierdie sous kan ook by steak en roerbraai geregte gebruik word.

Sesame vinaigrette:

(Wat eintlik pine nuts met sesame olie moes wees)

60 ml    Sesame saad
50 ml    Kookwater
20 ml    Olyfolie
50 ml    Wynasyn
             Sout en Swartpeper

Meng alles saam in voedselverwerker tot net gemeng.  Moet growwe tekstuur hê.

Alles bedien op 'n bed van gemengde slaaiblare en roket.

Die verrassing van die dag was dat my "lamskenkels" toe heel lamsnekke was.  Hulle is toe met rooiwyn en geurmiddels in die oond gepamperlang tot hulle sag was en toe is worteltjies en sampioene bygevoeg vir afronding.  Dit is bedien met gebarste aartappels en pampoenpoffertjies.

Lamsnekke in pot in oond gestowe

Pampoenpoffertjies met karamelsous (gemaak met Botterskorsie)
Gebarste Aartappels (Kook die aartappels tot net sag.  Druk plat met potato masher tot dit bars.  Bedek met olyfolie en gooi roosmarynblaartjies by.  Geur met Sout en Peper.  Bak in oond tot krakerig
  
Lamsnek met aartappel en pampoenpoffertjies
Ons het die ete afgesluit met sjokolade cinnabuns en Roomys met Madagaskar vanielje van Woolies.

Dit is regtig so lekker as oud-inwoners hul pad weer terugvind en mens kan sien dit gaan met hulle goed.

Hou die spasie dop vir nog 'n paar goedjies waarmee ons besig was voor en in die vakansie.



Monday, 10 June 2013

Beetslaai

Hierdie storie het 'n effense aanloop.  Ek het lankal terug gehoor van 'n "heerlike Beet en Feta slaai" wat op 'n onthaal voorgesit is.  Ek was nuuskierig maar is nie 'n groot slaaieter nie so dit het so in my agterkop gaan sit.  Ek het intussen soms resepte daarvoor gesien maar by gebrek aan vars beet het ek nooit by die probeerslag uitgekom nie.

Die afgelope paar weke is daar 'n landswye tekort aan geblikte beet (Ons gebruik die groot 3kg blikke) en die kleiner huishoudelike flesse is net te duur vir ons om aan te koop.  Desperaatheid dryf my toe om te begin vra vir vars beet, maar selfs dit is nie beskikbaar nie. Verlede week vra ek terloops weer, want hulle het gesê daar sal eers einde Junie selfs Julie eers weer beet beskikbaar wees.  Daar kry ek toe vars beet, nou wel nie die jong baba beetjies waarvoor my resep vra nie maar lekker vars.

Donderdag aand kyk ek toe Kokkedoor op Kyknet en daar noem hulle dat mens beet op sout in die oond moet bak vir die beste smaak.  Ek sit dadelik regop want ek het dan nou beet en so het ek dit nog nie gemaak nie.

So het dit gekom dat ek deur 'n paar resepte en hierdie raad my Maandag beetslaai bymekaar geslaan het.  Goeie kommentaar teruggekry, die kinders het net die Feta vinniger as die res van die slaai geskep, so volgende keer meer Feta?


Vars Heel Beet is op 'n laag growwe sout gepak en vir 40 min in die stoomoond gebak teen 160 grade totdat dit sag was

Johanna skil die gaar gebakte beet
Beet in repies gesny

Vars Beetslaai met Feta
Ek het nie vars Roket of Spinasie blare gehad nie, so gewone blaarslaai is onder gebruik.
 RESEP:

Vars beet, oondgebak op 'n laag sout tot sag en gaar
Laat effens afkoel maar nie yskoud
Skil en sny die beet soos verkies
Plaas 'n laag roket of baba spinasie blare onder in bak
Skep die beet bo-op en meng liggies
Gooi die sous oor (sien resep onder)
Rangskik Feta en neute bo-op en bedien dadelik.

Slaaisous:

125 ml       Balsamiese Asyn
5 ml            Suiker
125 ml       Olyfolie

Roer oor medium hitte totdat die suiker opgelos is. 
Bring tot kookpunt en kook totdat dit effens gekondenseer is.
Laat afkoel en roer olyfolie by.


Vars Beetslaai met Feta en Balsamiese Asyn

Wednesday, 5 June 2013

Eksamen Tyd !!!

EKSAMEN TYD is 'n tyd in ons program wat met ongekende spanning gepaard gaan.  Almal is besig met finale voorbereiding voor hulle rekenskap gee van die kwartaal (halwe jaar) se werk. Elkeen probeer vir oulaas die prentjie op die rapport mooier inkleur.  Dit beteken stilte in die gange (die hele dag!) sodat almal 'n kans kry om te fokus.  Dit beteken ongewone gedrag by meeste mense, skielik is jy lus vir dinge waaraan jy nooit aandag gee nie, soos draf of ekstra koffie drink of flieks kyk op jou laptop.  Op 'n manier het baie van ons hierdie instink om onsself te ondermyn... jy weet jy moet fokus en die berg werk happie vir happie wegwerk, maar die versoekings is so groot, hulle roep soooo hard.  Deur 'n leeromgewing te skep word almal gemotiveer om harder te werk, daarom gee meeste ouers toestemming dat leerders op hul "blok" dae by die koshuis studeer.

Groepies sit met tye saam in die eetsaal om mekaar te help, baie keer van die seniors wat juniors bietjie help.  Dit is die gees van HDP, dit is die dinge wat 'n positiewe atmosfeer skep en op die ou einde almal laat beter voel.  Soms kom tutors in om ekstra lesse aan te bied, dit is veral wiskunde wat hier aandag kry.

Die ander kant van die munt is dat eksamen tyd ook beteken die vakansie is op hande, en HUIS TOE GAAN is 'n werklikheid en saam met die spanning is die verlange en afwagting soms amper tasbaar.  Daar word begin met wegpak en weggooi en inpak en opruim en die besluite van wat moet saam en wat kan gestoor word vir volgende kwartaal.  Voor ons, ons kom kry begin die busse en vliegtuie vertrek en kan almal bietjie huiskos gaan eet, kans kry om stories uit te ruil en mekaar as gesin weer te waardeer.  
Breektyd word gebruik om bietjie te ontspan

Koffiedrink saam met vriende is net die ding vir breektyd

Die koue en konsentrasie maak mens honger en 'n roosterbroodjie is altyd lekker.

As die honger (of die spanning) te erg raak is die kombuis altyd daar vir 'n lekker broodjie

Ons is uiteindelik op ons nuwe spyskaart, ek het al die nuwe geregte ingesluit en ons verskeidenheid lyk definitief beter.  Die kinders geniet die meer moderne geregte en die nuwe smake, hulle sit al versoeke in as die geregte nie gou genoeg herhaal word nie.  Dit maak ons werk 'n plesier en laat mens nog harder probeer.  Ek werk nog hard aan my vaardighede met die kamera en hoop om die gehalte van my foto's nog baie te verbeter.

Maandag het ons nog gesteier van die skielike winterweer wat ons die naweek getref het, met hael wat Sondag oor amper die hele Kaapse Skiereiland geval het.  Ons het die week begin met heerlike Kerriebredie bedien met groente en slaai en vir aandete was dit die gewilde HDP Spagetti Bolognaise. Gister was dit "deconstructed" Hoenderpastei en gisteraand het ons gesmul aan Ribburgers. 
Hael lê Sondag wit in Kaapstad
PRAGTIGE Wintersdag op Stellenbosch
Vandag het die weer opgeklaar en die son het deurgekom en dit is een van die heerlikste vars winterdae in Stellenbosch. Ons bedien vir middag ete heerlike Oosterse Soetsuur Vark saam met Kapokaartappels, Kopkoolgebak en mengelslaai en natuurlik was dit Woensdag so Johanna het gesorg vir heerlike gebakte Klapperpoeding met tuisgemaakte vla.  Ek eet kopkool gewoonlik net in roerbraai geregte, maar Johanna tower die gekerfde kopkool  (gemeng met bechamel sous en Bacon Kips) en 'n bo-laag van Kaas en Bacon Kips om tot 'n onweerstaanbare gereg.  Die geur hang in die kombuis en jy kan nie anders as om te proe nie en dan weet jy, dis te laat, jy sal die kopkool eet.

Aartappels kook in kantelbraaier om verwerk te word na donsige Kapokaartappels
Begin van die heerlike Kopkool gereg
Gemarineerde varkvleisblokkies word liggies gebraai en warm gehou
Soetsuursous met vars Oosterse geure word berei voordat die vleisblokkies bygevoeg word om  heeltemal gaar te kook
Middagete - Oosterse Soetsuurvark met donsige Kapokaartappels, Kopkoolgebak en Mengelslaai
Vrugte en Klapper Poeding met Tuisgemaakte vla
Vanaand eet ons 'n heerlike mielie-vetkoekie bedien met kaas en stroop saam met 'n gebraaide worsie en heerlike tuisgemaakte sop. 











Maryline word 40

Maryline
Een van ons geliefde kombuisassistente, Maryline Samuels, het vandag 40 geword.  Die kinders het die dag begin deur vir haar te sing en drukkies uit te deel.  Ons het heerlik teetyd saam met haar gehou en vir haar 'n bos goudgeel rose gegee, voordat ons haar die middag af gegee het sodat sy vanaand saam met haar familie kan fees vier.



Almal geniet 'n koppie tee saam vir Maryline se verjaardag

Elize en Johanna in vrolike luim
Maryline geniet die tydjie saam met ons almal

Self Nora wat altyd so saggies praat en baie stil is, geniet die tydjie gate uit

Wednesday, 29 May 2013

Grille en Giere uit die Koswêreld

Verlede week was weer tyd vir die jaarlikse Kaapse Good Food & Wine Show. Dit was lekker om 'n slag demonstrasies deur top chefs te gaan kyk vir inspirasie en motivering.  Langs die pad leer mens mos altyd ietsie nuut waaraan jy nog nie gedink het nie.

Eerste op die lys was die Food Channel se Baking Mad chef Eric Lanlard (Cake Boy) wat die heerlikste soetgoed voor mens se oë optower.  Soutkaramel is deesdae bo-aan my lysie van smaaksensasies en sy Salted Butter Chocolate Cake is ongelooflik om te aanskou, ek sal dit net eenvoudig self MOET bak.  Hou hierdie spasie dop vir die foto's.  Hy gebruik ook graag nuwe produkte wat beskikbaar raak en was avontuurlik met groenteepoeier wat nie net smaak verleen aan 'n suurlemoentert nie maar 'n interessante groen kleur aan die kors gee.

Die hoogtepunt van die dag vir my was die heerlike "food & wine paring" deur ons eie Stellenbosch chef, Craig Cormack vir Spar.  Die kombinasie van geure en smake is altyd vir my soos 'n reis na nuwe plekke, maar sy hele aanslag en aanbieding het die ervaring nog beter gemaak en ons het gesmul aan happie soos sushi, vars oesters, snoekpatee canapès en Belgiese wafels met bessieroom.  Elkeen natuurlik saam met die gepaste uitgesoekte wyn.


Chef Eric Lanlard vertel hoe baie van ons area, die weer en die wyn hou

Demonstrasie deur chef Eric Lanlard

Vrolik by die Good Food & Wine Show


 By so 'n uitstalling kan mens al die nuwe neigings in kos waarneem, en ek het ook bietjie verder daaroor gelees.  Die "trends" in kosmaak is huidig om kinders aan meer volwasse smake bloot te stel.  Dit is waarskynlik omdat daar deesdae soveel restaurante is wat in baie spesifieke gebiede spesialiseer en kinders kry die geleentheid om hierdie ervarings met hul ouers te deel.  Ons beweeg weg van herhalende geregte en worsbroodjies en bring meer variasie in met gekrummelde hoenderrepies, viskoekies, gevulde paninis, tortillas met vulsels en guacamole en nog meer.

Hoender is die wenner by ligter en gesonder maaltye en is so veelsydig om in kreatiewe disse te gebruik.  Ons het vandag die tradisionele Maleise Hoenderkerrie omgewerk na 'n "koshuis" resep en dit bedien met Basmati rys, Gemengde Groente Mornay, Tzaziki (Komkommer met joghurt en knoffel) wat die mond verfris na die kerrie smake, en Waldorfslaai a la HDP.


Romerige Kaapse Hoenderkerrie 


Chefs is al hoe meer geneig om ongewone materiaal soos houtskywe, leiklip, ens. te gebruik vir die opdien van geregte.  Ons is ongelukkig beperk tot "gewone" melamien borde en moet dus ander maniere vind om kos interessant te maak.

Groente kry al hoe meer aandag en die neiging is om groente in ander gedaantes voor te sit.  Ons het vandag 'n baie gewilde Gemengde Groente Mornay voorgesit.  Dit is growwe gemengde groente met 'n sous wat gegeur word met hoenderaftreksel en bietjie kaas bo-op kry voor dit in die oond gebak word.  Selfs ek wat nie blomkool eet nie, smul hieraan.

Popcorn is een van die GROOTSTE TRENDS in 2013!!! Die kinders maak heeldag popcorn in die mikrogolwe, op die stoof en dalk nog 'n paar plekke.  Daar is so baie nuwe idees vir hierdie gesonde veselryke happie.  Kaneel, Wasabi, Kerrie, Gesoute Karamel is maar 'n paar van die nuwe besondere smake.  Braam is 'n kampioen popcorn maker en het sy eie variasies van onder meer klapper ys en karamel wat selfs bruide laat toustaan.

Die vars spesery smake van die Oosterse lande is nog baie sterk met ander kulture soos Mexico (salsas), Griekeland (tzaziki) en selfs die tradisionele Suid-Afrikaanse kookkuns (Maleise kerrie) het 'n magiese invloed op nuwe ontwikkelinge in die koskombuis.  Iets soos gewone alledaagse stampmielies kan in ander gedaantes verskyn (kerrie of tamatie of selfs as basis vir 'n souttert). 

Die verbeelding kan jou lei tot oneindige moontlikhede.

Wednesday, 22 May 2013

Gunsteling Geregte

Om aan te sluit by die pos oor onthou kos, wil ek begin met 'n paar resepte wat die kinders se gunstelinge is.

Een van die min resepte wat ek nog nie verander of vernuwe het in die jare wat ek by die kombuis betrokke is nie, is "Barcelona vark".  Dis 'n Spaans geïnspireerde varkvleis gereg waaroor die kinders dol is, maar dit is nie die aantreklikste gereg op 'n bord nie, veral as kinders net dit wil eet en nie die bykosse saam opskep nie!  Daarom was daar al klagtes oor die koshuis se etes wat nie so aantreklik soos restaurant kos opgedis word nie.  Ons probeer nie 'n restaurant wees nie, eerder nader aan 'n huis!  maar ons doen ons bes. Die kinders noem die gereg "Husky" aangesien dit soos blikkies hondekos lyk, maar daar gaan nie 'n keer verby dat die komplimente nie instroom nie.  As dit lanklaas op die spyskaart was kom die versoeke in want hulle is "mal" daaroor.  Sommige vra die resep om huis toe te neem sodat Ma dit by die huis ook kan maak.

Blokkies varkvleis word in gegeurde koekmeel gerol voordat dit gebraai word.


oortollige meel of uitgesif voordat die blokkies in 'n warm pan gaan. 

Die blokkies word in kleiner hoeveelhede gedeel en goudbruin gebraai.

Die gebraaide blokkies word uitgeskep en warm gehou totdat alles gebraai is. 
 Alles word terug geplaas in die pan en die sous word bygesit om 'n heerlike ryk gereg te maak wat baie lekker is saam met rys.

Die resep is in normale huis porsie (6 porsies) sowel as grootmaat (240 porsies):

Barcelona Vark
6 Porsies        240 porsies

125 ml            2 kg                        Koekmeelblom
5 ml                 200 ml                   Sout
2,5 ml             100 ml                    Peper
1,2 kg              40 kg                     Vark goulash blokkies, (maer sonder sigbare vet)
50 ml              500 ml                    Kookolie

2                     10 - 15                    Uie, gekap
5 ml                 100ml                     Knoffel, fyn
250 g               2 x A10 blikke      Sampioene
1 blik               3 blikke                  Heel Tamatie, (kan vars tamatie gebruik) gekap
125 ml             4 liter                     Hoenderaftreksel, aangemaak
125 ml                                            Wit Wyn 
                                                         OF
                         500 ml                   Asyn of Suurlemoensap (ons het ongelukkig nie wyn om  
                                                        mee   te kook nie. 
5 ml                  100 ml                   Basielie, droog (kan vars gebruik)
                                                        Pietersielie, fyn gekap vir versiering

Metode:

Geur die koekmeelblom met sout en peper en bedek die vleisblokkies daarmee. 
Verhit die olie in 'n braaipan (in ons geval die kantelbraaier) en braai die vleis tot bros en bruin.
Verwyder die vleis en hou eenkant warm.
Braai die uie, knoffel en sampioene tot sag.
Voeg die tamatie, hoenderaftreksel, wyn (of asyn/suurlemoensap) en basielie by.
Verlaag die hitte en kook vir ongevee 2 minute.
Skep die vleis terug in die sous, bedek die pan en prut stadig tot sag en gaar.
Strooi gekapte pietersielie oor vir garnering.

Bedien met rys en komkommer- of mengelslaai.

Ongelukkig het my foto van die finale produk in die slag gebly.  Ek sal by 'n later geleentheid 'n foto byvoeg. Kombuismuis

Môre besoek ek die Good Food and Wine Show in die CTICC in Kaapstad vir nuwe inspirasie ens.
 

Sunday, 19 May 2013

Ope dag 2013


Die jaar hardloop sy gewone galop passie en die ope dag, waarvoor ons reeds 'n tyd lank voorberei, storm op ons af.

Dit is elke jaar 'n voorreg om die opgewonde graad 7's van verskeie skole in die omgewing hier by ons te verwelkom.  Ouers en kinders kry 'n geleentheid om ons skool en koshuis te besigtig, vrae te vra en die normale Stellies gasvryheid te geniet.

Ons aansoeke vir 2014 sluit op 31 Mei so dit is 'n laaste kans om die regte keuse te maak.

Hier volg 'n paar foto's van die koshuis se deelname aan hierdie hoogs suksesvolle dag wat al ons verwagtinge oortref het met meer as 200 kinders wat deur ons program beweeg het.

Sureya en Charmaine begin om 200 eetgoed sakkies te pak


Spesiale Stellies Sjokolade vir die sakkies
Carla kyk dat al die sakkies netjies uitgepak is

200 Sakkies gereed vir ons gaste

Nadat die koshuis aktiwiteit voltooi is kry elke besoeker 'n sakkie met eetgoed

 Die skool word opgedeel in verskillende punte en besoekers beweeg in groepe deur die punte.  Elke punt het 'n aktiwiteit wat die vak(ke) daarby ondersteun bv. Wetenskap, Musiek, Gasvryheid, Koshuis, ens.

KOSHUIS AKTIWITEIT 
Christiaan sorg dat Isabel se das reg is vir die begin van Ope dag.
By die koshuis het ons 'n kykie probeer gee na hoe ons binne 'n gemengde geslag koshuis saam verkeer.  Groepe het ingekom en elkeen kon 'n blokkie koek met een van die skool se kleure (Rooi, Swart of Geel) versier.  Ons het HDP (Huis du Preez) in 'n koekmosaiek gepak wat later in die skoolsaal vertoon is tydens die gesamentlike byeenkoms.  

Die versierde blokkies is daar aan die besoekers uitgedeel.  Sommige kon nie wag nie en sommer dadelik weggelê aan die heerlike koekblokkies :-)

Johanna het die plaatkoeke vroegtydig gebak


Stasies is opgestel, elkeen met 3 kleure versiersuiker waaruit gekies kon word
Elizabeth en Carla hou toesig en help met versiering van mosaiek blokke
Mike help met die pak van die HDP Koek mosaiek
 Ons kinders maak elke Saterdag aand vuur en kuier gesellig saam met stories en musiek en bietjie braai daarby.
Ignus is 'n staatmaker om die vuur aan die gang te kry

Besoekers het kans gekry om Malvalekkers op stokkies te braai

Onthou die aansoeke sluit 31 Mei en plekke is BAIE beperk !!!