Pages

Wednesday, 29 May 2013

Grille en Giere uit die Koswêreld

Verlede week was weer tyd vir die jaarlikse Kaapse Good Food & Wine Show. Dit was lekker om 'n slag demonstrasies deur top chefs te gaan kyk vir inspirasie en motivering.  Langs die pad leer mens mos altyd ietsie nuut waaraan jy nog nie gedink het nie.

Eerste op die lys was die Food Channel se Baking Mad chef Eric Lanlard (Cake Boy) wat die heerlikste soetgoed voor mens se oë optower.  Soutkaramel is deesdae bo-aan my lysie van smaaksensasies en sy Salted Butter Chocolate Cake is ongelooflik om te aanskou, ek sal dit net eenvoudig self MOET bak.  Hou hierdie spasie dop vir die foto's.  Hy gebruik ook graag nuwe produkte wat beskikbaar raak en was avontuurlik met groenteepoeier wat nie net smaak verleen aan 'n suurlemoentert nie maar 'n interessante groen kleur aan die kors gee.

Die hoogtepunt van die dag vir my was die heerlike "food & wine paring" deur ons eie Stellenbosch chef, Craig Cormack vir Spar.  Die kombinasie van geure en smake is altyd vir my soos 'n reis na nuwe plekke, maar sy hele aanslag en aanbieding het die ervaring nog beter gemaak en ons het gesmul aan happie soos sushi, vars oesters, snoekpatee canapès en Belgiese wafels met bessieroom.  Elkeen natuurlik saam met die gepaste uitgesoekte wyn.


Chef Eric Lanlard vertel hoe baie van ons area, die weer en die wyn hou

Demonstrasie deur chef Eric Lanlard

Vrolik by die Good Food & Wine Show


 By so 'n uitstalling kan mens al die nuwe neigings in kos waarneem, en ek het ook bietjie verder daaroor gelees.  Die "trends" in kosmaak is huidig om kinders aan meer volwasse smake bloot te stel.  Dit is waarskynlik omdat daar deesdae soveel restaurante is wat in baie spesifieke gebiede spesialiseer en kinders kry die geleentheid om hierdie ervarings met hul ouers te deel.  Ons beweeg weg van herhalende geregte en worsbroodjies en bring meer variasie in met gekrummelde hoenderrepies, viskoekies, gevulde paninis, tortillas met vulsels en guacamole en nog meer.

Hoender is die wenner by ligter en gesonder maaltye en is so veelsydig om in kreatiewe disse te gebruik.  Ons het vandag die tradisionele Maleise Hoenderkerrie omgewerk na 'n "koshuis" resep en dit bedien met Basmati rys, Gemengde Groente Mornay, Tzaziki (Komkommer met joghurt en knoffel) wat die mond verfris na die kerrie smake, en Waldorfslaai a la HDP.


Romerige Kaapse Hoenderkerrie 


Chefs is al hoe meer geneig om ongewone materiaal soos houtskywe, leiklip, ens. te gebruik vir die opdien van geregte.  Ons is ongelukkig beperk tot "gewone" melamien borde en moet dus ander maniere vind om kos interessant te maak.

Groente kry al hoe meer aandag en die neiging is om groente in ander gedaantes voor te sit.  Ons het vandag 'n baie gewilde Gemengde Groente Mornay voorgesit.  Dit is growwe gemengde groente met 'n sous wat gegeur word met hoenderaftreksel en bietjie kaas bo-op kry voor dit in die oond gebak word.  Selfs ek wat nie blomkool eet nie, smul hieraan.

Popcorn is een van die GROOTSTE TRENDS in 2013!!! Die kinders maak heeldag popcorn in die mikrogolwe, op die stoof en dalk nog 'n paar plekke.  Daar is so baie nuwe idees vir hierdie gesonde veselryke happie.  Kaneel, Wasabi, Kerrie, Gesoute Karamel is maar 'n paar van die nuwe besondere smake.  Braam is 'n kampioen popcorn maker en het sy eie variasies van onder meer klapper ys en karamel wat selfs bruide laat toustaan.

Die vars spesery smake van die Oosterse lande is nog baie sterk met ander kulture soos Mexico (salsas), Griekeland (tzaziki) en selfs die tradisionele Suid-Afrikaanse kookkuns (Maleise kerrie) het 'n magiese invloed op nuwe ontwikkelinge in die koskombuis.  Iets soos gewone alledaagse stampmielies kan in ander gedaantes verskyn (kerrie of tamatie of selfs as basis vir 'n souttert). 

Die verbeelding kan jou lei tot oneindige moontlikhede.

Wednesday, 22 May 2013

Gunsteling Geregte

Om aan te sluit by die pos oor onthou kos, wil ek begin met 'n paar resepte wat die kinders se gunstelinge is.

Een van die min resepte wat ek nog nie verander of vernuwe het in die jare wat ek by die kombuis betrokke is nie, is "Barcelona vark".  Dis 'n Spaans geïnspireerde varkvleis gereg waaroor die kinders dol is, maar dit is nie die aantreklikste gereg op 'n bord nie, veral as kinders net dit wil eet en nie die bykosse saam opskep nie!  Daarom was daar al klagtes oor die koshuis se etes wat nie so aantreklik soos restaurant kos opgedis word nie.  Ons probeer nie 'n restaurant wees nie, eerder nader aan 'n huis!  maar ons doen ons bes. Die kinders noem die gereg "Husky" aangesien dit soos blikkies hondekos lyk, maar daar gaan nie 'n keer verby dat die komplimente nie instroom nie.  As dit lanklaas op die spyskaart was kom die versoeke in want hulle is "mal" daaroor.  Sommige vra die resep om huis toe te neem sodat Ma dit by die huis ook kan maak.

Blokkies varkvleis word in gegeurde koekmeel gerol voordat dit gebraai word.


oortollige meel of uitgesif voordat die blokkies in 'n warm pan gaan. 

Die blokkies word in kleiner hoeveelhede gedeel en goudbruin gebraai.

Die gebraaide blokkies word uitgeskep en warm gehou totdat alles gebraai is. 
 Alles word terug geplaas in die pan en die sous word bygesit om 'n heerlike ryk gereg te maak wat baie lekker is saam met rys.

Die resep is in normale huis porsie (6 porsies) sowel as grootmaat (240 porsies):

Barcelona Vark
6 Porsies        240 porsies

125 ml            2 kg                        Koekmeelblom
5 ml                 200 ml                   Sout
2,5 ml             100 ml                    Peper
1,2 kg              40 kg                     Vark goulash blokkies, (maer sonder sigbare vet)
50 ml              500 ml                    Kookolie

2                     10 - 15                    Uie, gekap
5 ml                 100ml                     Knoffel, fyn
250 g               2 x A10 blikke      Sampioene
1 blik               3 blikke                  Heel Tamatie, (kan vars tamatie gebruik) gekap
125 ml             4 liter                     Hoenderaftreksel, aangemaak
125 ml                                            Wit Wyn 
                                                         OF
                         500 ml                   Asyn of Suurlemoensap (ons het ongelukkig nie wyn om  
                                                        mee   te kook nie. 
5 ml                  100 ml                   Basielie, droog (kan vars gebruik)
                                                        Pietersielie, fyn gekap vir versiering

Metode:

Geur die koekmeelblom met sout en peper en bedek die vleisblokkies daarmee. 
Verhit die olie in 'n braaipan (in ons geval die kantelbraaier) en braai die vleis tot bros en bruin.
Verwyder die vleis en hou eenkant warm.
Braai die uie, knoffel en sampioene tot sag.
Voeg die tamatie, hoenderaftreksel, wyn (of asyn/suurlemoensap) en basielie by.
Verlaag die hitte en kook vir ongevee 2 minute.
Skep die vleis terug in die sous, bedek die pan en prut stadig tot sag en gaar.
Strooi gekapte pietersielie oor vir garnering.

Bedien met rys en komkommer- of mengelslaai.

Ongelukkig het my foto van die finale produk in die slag gebly.  Ek sal by 'n later geleentheid 'n foto byvoeg. Kombuismuis

Môre besoek ek die Good Food and Wine Show in die CTICC in Kaapstad vir nuwe inspirasie ens.
 

Sunday, 19 May 2013

Ope dag 2013


Die jaar hardloop sy gewone galop passie en die ope dag, waarvoor ons reeds 'n tyd lank voorberei, storm op ons af.

Dit is elke jaar 'n voorreg om die opgewonde graad 7's van verskeie skole in die omgewing hier by ons te verwelkom.  Ouers en kinders kry 'n geleentheid om ons skool en koshuis te besigtig, vrae te vra en die normale Stellies gasvryheid te geniet.

Ons aansoeke vir 2014 sluit op 31 Mei so dit is 'n laaste kans om die regte keuse te maak.

Hier volg 'n paar foto's van die koshuis se deelname aan hierdie hoogs suksesvolle dag wat al ons verwagtinge oortref het met meer as 200 kinders wat deur ons program beweeg het.

Sureya en Charmaine begin om 200 eetgoed sakkies te pak


Spesiale Stellies Sjokolade vir die sakkies
Carla kyk dat al die sakkies netjies uitgepak is

200 Sakkies gereed vir ons gaste

Nadat die koshuis aktiwiteit voltooi is kry elke besoeker 'n sakkie met eetgoed

 Die skool word opgedeel in verskillende punte en besoekers beweeg in groepe deur die punte.  Elke punt het 'n aktiwiteit wat die vak(ke) daarby ondersteun bv. Wetenskap, Musiek, Gasvryheid, Koshuis, ens.

KOSHUIS AKTIWITEIT 
Christiaan sorg dat Isabel se das reg is vir die begin van Ope dag.
By die koshuis het ons 'n kykie probeer gee na hoe ons binne 'n gemengde geslag koshuis saam verkeer.  Groepe het ingekom en elkeen kon 'n blokkie koek met een van die skool se kleure (Rooi, Swart of Geel) versier.  Ons het HDP (Huis du Preez) in 'n koekmosaiek gepak wat later in die skoolsaal vertoon is tydens die gesamentlike byeenkoms.  

Die versierde blokkies is daar aan die besoekers uitgedeel.  Sommige kon nie wag nie en sommer dadelik weggelê aan die heerlike koekblokkies :-)

Johanna het die plaatkoeke vroegtydig gebak


Stasies is opgestel, elkeen met 3 kleure versiersuiker waaruit gekies kon word
Elizabeth en Carla hou toesig en help met versiering van mosaiek blokke
Mike help met die pak van die HDP Koek mosaiek
 Ons kinders maak elke Saterdag aand vuur en kuier gesellig saam met stories en musiek en bietjie braai daarby.
Ignus is 'n staatmaker om die vuur aan die gang te kry

Besoekers het kans gekry om Malvalekkers op stokkies te braai

Onthou die aansoeke sluit 31 Mei en plekke is BAIE beperk !!!

Saturday, 4 May 2013

ONTHOU KOS

Die afgelope tyd lees en hoor ek oral van onthoukos.  Van die nuwe kookprogram op Kyknet, Kokkedoor, tot by Nataniël in die Sarie Kos tydskrif gaan dit oor ONTHOU!  Toe luister ek toevallig na die huiskok op RSG en sy praat van 'n Grondboontjiebotter-Broodpoeding.  Sy meen toe die onthou van grondboontjiebotter skoolbroodjies is nie 'n goeie een nie.  Dit het my opgeval want my oudste kind het haar hele skoolloopbaan net dit gevra en noudat sy na jare begin skoolhou het vra sy weer elke oggend 'n grondboontjiebotter en stroop broodjie vir pouse.  Vir ons is dit 'n lekker onthou, 'n oomblik van nostalgie amper, beslis nie sleg nie.

Ons het die winter ingewy met melkkos die ander aand en die opmerkings van "Julle laat my huis toe verlang!" en "Dis my ma se kos diè" het my weer gebring by die ONTHOU!  Die wonderlike ding van 'n gereg is dat dit sekere gevoelens oproep, herinneringe terugbring en jou laat onthou van samesyn en goeie tye.  Ek wil graag hê ons kinders moet ook sulke onthoukos hier eet, dat hulle goeie herinneringe sal hê van ten minste 'n gunsteling gereg of twee.

Ek weet die "Stew" is legendaries as die gereg wat moet verdwyn.  Ter verdediging wil ek noem dat ons regtig goeie stowe geregte en bredies maak en die geure afwissel.  In die winter is dit vir my trooskos, vullende warmte wat jou pantser teen die ysige winter en behalwe dat dit voedsaam en ekonomies is, is daar talle kinders wat dit wel geniet.  Ek het so paar jaar terug gevra vir spyskaart voorstelle, die drie prominente versoeke was Maltabella pap, Stywe pap en sous by die Boereworsrolle en.....ja, glo dit of nie! Tamatiebredie. 

Ek is seker elke mens het sekere kos wat hy of sy dadelik kan oproep as onthou kos, ek wil konsentreer op die lekker onthou.  Die onthou van my pa wat vleis bewerk of heuningkoeke uitwaai (al eet ek nie heuning nie); My ma se vetkoek (omtrent die enigste goeie kos wat sy kon maak) tot die entoesiasme van die koshuiskinders oor die Sondagaand "Hotdogs" en Hoenderburgers wat vir my soms baie vervelig voel.

Die onthou van braaivleisvure is sekerlik die een wat meeste van ons gemeen het en die braaie wat ons al hier gehou het was nog altyd 'n sukses en verdien definitief 'n onthou plekkie.  Toe die koshuis kleiner was kon ons maklik op 'n Woensdag aand op die wal braai, of Sondag middag in die vierkant sosaties op die kole gooi.  Nou maak die seuns Saterdag aande vuur en almal wat wil deel kom braai van marshmallows en braaibroodjies tot choppies, wors en skilpadjies.  Maak nie saak of jy braai of nie, die kuier om die vuur bly een van die lekkerstes.

Een van die oud-leerders skryf nou die dag hy onthou die pienk melk saans in studiebreuk.  Daar was 'n probleem om dit in die hande te kry en ons moes noodgedwonge bly by warm sjokolade, Milo, Koffie, Tee en Koeldranke.  Ek het bietjie vergeet maar ek sal sekerlik weer die pienk melk terugbring en dalk nog onthou oomblikke laat ontstaan.

Ek hoop almal het hope goeie onthoue en wonderlike koservaringe.saam met julle geliefdes en gesinne.

Omdat Woensdag 'n vakansie dag was het ons besluit om Dinsdagaand bietjie spesiaal te maak.  Ons het (soos jare terug) die kos op die tafels geplaas en kinders het nie nodig gehad om in rye te staan vir opskep nie.  Ek het Antipasto borde beplan met items wat beskikbaar is en wat ons normaalweg bedien.


Johanna maak seker daar is genoeg vir elke tafel.

Die begin van die Antipasto borde. Marlene kyk na die 50+ skinkborde wat gepak moet word, dit lyk na 'n onmoontlike taak maar ons byt vas

Die eerste borde begin vorm aanneem
Die Antipasto borde gereed om tafels toe gedra te word.  Teen hierdie tyd was almal wat by die kombuis ingeloer het al erg opgewonde

'n Deel van die kombuisspan wat hierdie bederf moontlik gemaak het.  Vlnr is Wilna, Johanna, Sureya en Jeanette

Die kinders het soos altyd ingespring en ons werk ligter gemaak.  Mike was een van die gewillige helpers
 
Omdat baie nie Woensdag by middagete sou wees nie het ons die nagereg na Dinsdag aand verskuif.  Ons het aangekoopte vlaskywe getoets....BAIE SOET!
'n Spesiale aanbod van ons vleisverskaffer het ons in staat gestel om Donderdag heerlik geroosterde Biefstuk met romerige Sampioensous, krakerige Skyfies, Soetwortel en Mengelslaai te bedien

Donderdag het soos 'n Maandag gevoel en was so blou soos die blouste een nie kan wees nie, maar GELUKKIG is dit toe Vrydag en ons draf die naweek binne.  
Dis Saterdag en die sportspanne moes reeds 5h15 ontbyt eet want die busse het om 5h45 na Montagu vertrek vir 'n dag van sport en saamwees wat onthou sal word. Daar is muffins, joghurt, Pro Nutro, Rice Krispies, roosterbrood, ens. voor hulle op die busse gaan klim.

Ons wag hulle in met heerlike Hoender en Groente Roerbraai en vanaand bederf ons met sappige Hamburgers.

Tyd om Asem te haal

Die kwartaal se wiele het net al hoe vinniger begin rol en ons tel net spoed op!  Daar is omtrent nie tyd vir asemhaal nie en ek moet erken, toe bly die blog bietjie agter en die foto's raak bietjie minder.  Ons het nie opgehou om nuwe resepte te toets nie en ons is naby die einde van hierdie eksperimentele tyd.  
Dit raak nou tyd om uit te asem en met 'n vars nuwe perspektief na die standaard 5 weke siklus spyskaart wat ons gebruik te kyk. Teen middel Mei behoort ons splinternuwe winter siklus spyskaart opgestel te wees en dan vloei die hele proses van bestel, ontvang, berei en bedien in die kombuis weer seepglad.  Hopelik bly die kinders opgewonde oor die nuwe geregte wat ingebring gaan word en word hierdie koservaring vir ons almal 'n plesierrit. 

Ek het 'n absoluut oop gemoed vir nuwe moontlikhede en sal nooit ophou om 'n nuwe resep wat belowend lyk te toets en te gebruik nie. 'n Massa toets van nuwe resepte soos ons die afgelope paar weke gedoen het bring egter hul eie uitdagings. Al is ek erg opgewonde daaroor moet ons nou bietjie normaliteit inbring vir die tweede helfte van die kwartaal.
'n Vakansie dag in die middel van die week beïnvloed ons roetine nogal baie.  Maandag het ons begin met 'n Kaap Maleise Joghurt Hoenderkerrie bedien met Rys, Gemengde Groente en Sambal

Dinsdag het ons Kamma Wildspastei met blink Pietersielie Aartappels, Soet Wortel, Ertjies en vars Mengelslaai bedien  
 En toe word Dinsdag skielik Vrydag met Woensdag 'n heerlike vakansie dag al moes sommige hard leer vir toetse Donderdag oggend.

Beplanning vir ons ope dag op 13 Mei is ook in volle swang en ons is baie opgewonde om die nuwe potensiële ouers en leerders te ontmoet.


Wednesday, 17 April 2013

WINTER IS HIER

Die eerste regte WINTER WEEK.

Die weer trek toe, dis elke dag kouer en vandag val die reën al hoe harder en byt die koue en is die lug donker en die wolke swaar van die ongestorte reën.  

Maandag kry ons besoek van Feedem kontrak spyseniers wat ons middagete kom bywoon.  Ons het weer 'n nuwe resep en Johanna (kok) is siek!!! Gerty berei die Thai Green Chicken Curry en dit kom besonder lekker.  Ek was benoud om dit in so 'n groot maat te maak maar was aangenaam verras en baie komplimente het ingekom.  Daarby is roerbraai groente en die baie gewilde vars pynappel en piesangslaai bedien.

Thai Green Chicken Curry op die Huis du Preez manier.  Ons het die resep aangepas en na smaak verander.  Ek sal die finale resep later opsit
 Aandete sonder 'n kok veroorsaak baie spanning en 'n paar haakplekke, maar gelukkig spring die span vinnig in as daar krisis is en baie hulp is gegee met die aandete se voorbereiding voor die half-dag span huis toe is.  Aandete was ciabatas met ham, kaas en sampioene bedien met mielie salsa en mengelslaai.
Ciabatas reg vir oond
Charmaine bak gou ciabatas voordat sy huis toe gaan

Mieliesalsa en gebraaide sampioene



MIELIE Salsa

Braai die mieliepitte liggies in klein bietjie olyfolie
Tamaties, gekap
Ui, gekap
Green Pepper, gekap
Roket blare, fyn gesny
Balsamiese Asyn
Suurlemoensap
Sout & Peper
Fyn Komyn

Meng die mielies, tamatie, uie en Roket
Maak net effens nat met bietjie suurlemoensap en Balsamiese Asyn
Geur met sout en peper en sit knippie fyn komyn by

 Dinsdag is Tamatie bredie en Johanna is nog steeds siek, maar ons hou alles onder beheer.
Woensdag is darem middel van die week en mens begin uitsien na die naweek wat nader kruip, en dit is mos darem POEDING DAG!

Hoenderdye word reggekry vir oond
EN net toe ons dink alles is klopdisselboom.....toe breek ons getroue staatmaker oond!!! KRISIS maar ons maak planne en die kos is (gelukkig) betyds op die tafel, poeding en al!
 
Hoender (aangepaste resep agv stukkende oond)

Gerty maak lekker regte vla op 'n koue reën dag

Romerige Vla vir 250 plus
Brandewyntert met vla
Vulcan se tegnikus was gelukkig vinnig hier en ons getroue "Rodger" (die oond) is weer volstoom aan die werk vir aandete.  Wiskunde olimpiade bus vertrek reeds 17h00 so ons begin aandete bediening vanaf 16h30.  EN EN EN Vanaand is MELKKOS met kaneelsuiker!, regte winter verlangkos op sy beste!

Elize, Maryline en Juanita besig met die skottelgoed 
 
Daar is altyd grappies en 'n goeie gees in die kombuis, veral met opruim tyd!

Lettitia besig om borde weg te pak tot volgende ete            

Ta Ta Somer - HALLO Winter


Ek lees die afgelope ruk 'n hele paar olifant stories en vind dit interessant want hierdie reuse diere het my nog altyd gefasineer.  Toe hoor ek toevallig 'n aanmerking wat ek eintlik ken.....Hoe eet jy 'n olifant? Die antwoord:  Happie vir happie.  

Nie dat ek ooit al daaraan gedink het om 'n olifant te eet nie, maar die idee van iets so groot dat mens nie kans sien daarvoor nie en tog as jy dit bietjie vir bietjie neem, oorwin jy die olifant!  Die laaste tyd (weet nie of dit die komende matriekafskeid is nie) kontak ouers en kinders my oor ....ja.....gewigsverlies by tieners. Vrouens is mos maar altyd bewus van die kilogramme wat ons wil/moet/gaan verloor en vir tieners kan mens dit seker maklik maal met 10 want hulle is so selfbewus oor hul liggame wat so vinnig verander.  Mens dink ook dadelik dis net meisies maar die seuns let al hoe meer op wat hulle eet.

My pa het altyd gesê 'n koshuiskind is 'n eetlus met 'n vel om en hy het dit so geniet as die koshuis kinders by die huis aankom en weglê aan wat ook al voorgesit word. Tiener seuns is nog net so onversadigbaar soos altyd, maar jy kan nie net meer brood en konfyt gee om die honger te stil nie.  Ons gee kinders die keuse van wit of Lae GI brood en maak die aanbod aantreklik deur 'n keuse tussen gewone volgraanbrood, saadbrood en heuning en hawermout brood.  Dit is opmerklik hoe die balans tussen die brode verander en die witbrood bestelling al minder word terwyl die res styg.  Ek glo dis 'n kwessie van smaak wat ontwikkel word saam met die bewustheid van gesond eet.  By die seuns dink ek gaan dit meer oor sport deelname en die "six pack" waaraan hard ge"gym" word terwyl die meisies wil mooi lyk in die spieël.

Ons werk met minimum olie en vet in die kombuis.  Vleis, ook maalvleis, word maer bestel, groente word gestoom en slegs die pampoen en patat kry suiker oor.  As ons bv. skorsies bedien, word die suiker en margarien apart bedien sodat elkeen kan besluit waarvoor hy/sy kans sien.  Soms bederf ons bietjie met skyfies, gebraaide aartappel of vetkoek maar vis, hoenderfillette, burgers, ens. word alles in die oond gaargemaak sonder enige olie.  Ek reken die kinders sal my kruisig as ek Sondagmiddag se braai aartappels wegneem, (daar was al trane daaroor).  As ons bietjie olie by groente gebruik omdat dit nie anders kan nie, is dit olyfolie van goeie gehalte.  Elke ete het ook 'n vars mengelslaai van een of ander aard en elkeen het die keuse wat hy/sy gaan eet.  So ons doen alles wat ons kan om die kos so gesond en smaaklik moontlik te berei en laat die keuse aan die eters oor.  

My raad is as iemand werklik 'n gewigsprobleem het, moet daar 'n wilsbesluit wees om iets te verander.  Daar is nie towermiddels teen die vetjies nie, mens moet daardie olifant maar happie vir happie eet en nie moed verloor as jy langs die pad so bietjie afdwaal nie.  Jy moet kyk wat vir jou lyf werk en altyd onthou....Jy is wat jy eet!

Ons Somer het vinnig tot 'n einde gekom en die nat Stellenbosch Winter is met ons.  Ek voel nog nie heeltemal reg daarvoor nie, maar ons spyskaart is besig om stadig te verander (soms vinniger met nuwe resepte wat getoets word) en dit raak bredie tyd en vanaand eet ons melkkos en die soppe staan nader en wag op volgende week se spyskaart.

EERSTE NAWEEK VAN DIE KWARTAAL!

Die eerste week van die kwartaal het om gevlieg en die naweek was op ons met 'n Netbal toernooi Vrydag en Saterdag hier op ons bane.  

Vrydag was weer tyd om nuwe gereg te toets.  Daar is twee vereistes vir 'n nuwe resep om gebruik te word.  Eerstens moet die kombuis dit kan behartig itv voorbereidings tyd en toerusting en Tweedens moet dit goed geëet word (ek hou die afval bak dop om dit te monitor).
Vrydag aand het ons 'n eenbak gereg met hash browns en varkworsies getoets.  Ek moet sê ek het my bedenkinge gehad maar dit was heerlik en is goed ontvang.



Eenbak Hashbrown gereg
100 porsies 

 2 x 6kg     Hashbrowns


5 kg           Varkworsies
5-6             Uie, gekap
2                Groen Soetrissie, gekap

1,5 kg        Cheddar Kaas, gerasper

5 liter Melk
1 liter Meadowland room
40 Eiers
Sout, Peper en Gemengde Kruie

Maak die worsies halfgaar in oond sodat dit makliker sny
Sny die varkworsies in stukkies en braai saam met ui en groensoetrissie
Pak ‘n laag hashbrowns onder in bak en bedek met worsiemengsel
Pak weer hashbrowns bo-op
Strooi kaas oor
Klits die melk, room en eiers saam en geur.
Gooi oor die bakke en bak by 180 grade tot gestol, ongeveer 30-40 min


 Die Rugby en hokkie spelers (meerderheid van die inblyers) het vroeg vroeg Saterdag oggend vertrek en ontbyt is geskuif na 7h30. Middagete was Soetsuur Vark met rys en slaai wat baie baie lekker was en Saterdag aand was die immer gewilde Chicken Fillet Burger se beurt.

Sondag het ons Oondgebraaide Biefstuk met goudbruin gebraaide Aartappels, Oondgeroosterde groente, Coleslaw en Sondag Mengelslaai bedien met Gebakte Kaaskoek en vrugte as nagereg.  En die naweek word tradisioneel afgesluit met 'n Koshuis Hotdog.  Ek het avokadopere gehad om uit te sit en ek dink nie sjokolade sou die kinders meer opgewonde gemaak het nie.




Vlnr Maryline ruim op terwyl Charmaine en Marlene die Sondag slaaiborde afrond met Feta kaas
 
Oondgebraaide Biefstuk met Goudbruin Braaiaartappels, Oond geroosterde Groente en Slaai

Gebakte Kaaskoek vir Poeding