Pages

Sunday, 17 March 2013

Naweek in Huis du Preez

Vrydag kom soos 'n onverwagte warrelwind op die kombuis af en almal is opgewonde oor die woord naweekNa die week se hardloop en skarrel en kophou en uithou is 'n stadiger pas aan die wink.

Ons het begin met 'n verjaardag meisie, Marlene, en Johanna het 'n spesiale teetyd vir haar reg gekry.  Soms, wanneer daar 'n paar van ons naby mekaar verjaar of in die vakansie verjaar het, hou ons sommer so 'n gesamentlike verjaardag tee op 'n Vrydag wat ons kies, maar soms is een gelukkig om op die Vrydag te verjaar en dan word sy bietjie bederf.  Elize is ons voorsanger en sit altyd die noot in vir 'n Happy Birthday en Hiep Hiep Hoera! 
Marlene is al 8 jaar 'n assistent in die koshuis en het twee jaar gelede 'n hartklep vervanging gehad.  Sy is altyd vriendelik en is 'n kosbare deel van ons span.
 Die nuwe gordyne van die boonste dogters gang daag op en teen die tyd dat die skool uitkom het die kamers 'n nuwe baadjie aan, ons hoop die dogters geniet dit.  
'n Steelfoto van Braam wat ons nuwe gordyne teen die trappe opdra.
 Teen 12h00 was ons reg met borde eetgoed vir die skool se personeel waar daar twee opvoeders is wat gedurende die langnaweek trou.  Ons wens hulle baie geluk met hul huwelike en hoop dis vir albei 'n droomdag.
Hierna volg die swemgala se pitas wat ons herhaal van verlede Vrydag af.
En toe begin die naweek!  Vrydag aand het ons 'n braai gehou vir 'n groep Duitse uitruil studente en daarna is die ontspanningsaal donker gemaak en is daar gesokkie saam met luide musiek.  
Saterdag oggend het die eerste sportspanne reeds om 5h45 kom ontbyt voordat hulle op die bus geklim het om ons naam te gaan hoog hou.  Saterdag is gewoonlik 'n redelike rustige dag wanneer almal die kans gebruik  om bietjie dorp toe te stap en miskien te gaan fliek.
'n Tyd terug  vra 'n vriendin my hoe kinders wat nie kan huis toe gaan nie, dit naweke in die koshuis uithou.  Almal wil mos maar graag hul naweek uitspantyd met hul eie mense deurbring en dis 'n voorreg vir die wat naweke kan huis toe gaan, maar as mens die negatiewe bietjie eenkant toe stoot is daar tog lekkerte in 'n naweek se inbly.  Vriende het tyd om rustig te kuier en gesels, ekstra slaap is dikwels nodig na 'n harde week, fliek of koffie drink is altyd 'n opsie en soms is dit selfs nodig om net bietjie alleen te wees.  Ek dink ons kinders gebruik die positiewe van inbly en al is dit nie verkieslik nie, is dit tog 'n lekker tyd waarin ons herinneringe van goeie tye opbou.
Hier is 'n paar tipiese naweek foto's



En skielik is dit SONDAG en ons besef 'n week is verby en die naweek is amper om.  Dit is tyd om stil te raak in die kerk van jou keuse maar eers begin ons met 'n heerlike Spek en Eier ontbyt, altyd veral die seuns se gunsteling.
Spek en Eiers in groot maat :-)
Middagete is sappige Spare Ribs met Bros Braaiaartappel, goue Soetpampoen, Ertjies en uitpak Mengelslaai.

Die Braai Aartappel is 'n "verpligte" deel van die Sondag middagete!

Vir nagereg is daar veerligte Sjokolade Mousse met Vrugteslaai



Thursday, 14 March 2013

Donderdag is amper naweek!

Donderdag is ons laaste "normale" dag van die week voor die naweek roetine begin.  Vrydae eet ons nie tweede pouse nie maar eers na skool, dan wag die huistoe gaan geleentheid al vir baie en ete word af gewoerts sodat hulle kan gaan naweek hou.  Die inblyers begin beplan die naweek afleidings en reëlings word druk by die tafels bespreek. Jy hoor gereeld:  "Het my ma se e-pos of sms al deurgekom wat sê ek slaap by 'n maat of ek gaan na 'n partytjie toe Saterdag aand, ens."

Donderdae is sonder dat ons dit so wou kies, meestal hoender dag a.g.v. ons aflewerings tye en berging spasie.  Vandag het ons op 'n snikhete dag weggelê aan goudbruin bros krummelhoender met slaaie en vanaand is PIZZA aand!  Ons toets 'n nuwe pizza opsie uit vir aandete. Môre hou ons eers die gala wat laasweek uitgereën het en die aand verwelkom ons 'n groep Duitse uitruilstudente met 'n braai en sien uit om hulle in die volgende paar dae beter te leer ken.
Bros bruin Krummel Hoender bedien met Broodslaai, 3-Bone Slaai, Mengelslaai en die Kondensmelk Aartappelslaai was afwesig toe die foto geneem is :-)  Ek is onderbreek net toe my bord vorm aanneem en vergeet toe om die aartappelslaai in te skep.

Ons middagete waarvoor 'n paar kinders kom dankie sê het! (Dis altyd lekker as jy weet iemand geniet jou kos)  en dan is daar 'n paar wat net die velle van die hoender af eet, hoop nie hulle raak honger nie :-) 

 

Wednesday, 13 March 2013

Vandag se hoogtepunte

Middagete kon ons heerlike gebakte vis en vars skyfies met slaai en baie tamatiesous eet.  Dit is Woensdag en ons het kans gekry om die nuwe Portugese Vlatertjie vir nagereg te proe. HEERLIK!

Aandete was dit die altyd gewilde Krummel Hoender Burger en ons geheime Sweet Chilli Mayo met Rooi Pastaslaai. Mmmmm!!!

Ons Kinders se Talente

Gisteraand het die gasvryheid se Rooi Rissie Restaurant saam met die musiek departement 'n baie suksesvolle skemerkelkie aangebied.

Die koshuis leerders voel almal soos my eie kinders so ek was lekker trots op al hul talente.  Die foyer van die skool is baie gesellig ingerig en met blomme en kerse versier.  Die kelners (gasvryheid leerders) het met borde en borde van die geurigste happies tussen die gaste deurbeweeg.  Die sout eetgoed was interessant met bros korsies en heerlike vulsels wat op verskillende maniere opgedis is. Dit het van gerookte salm met roomkaas tot smaaklike frikkadelletjies op 'n porselein lepeltjie gevarieer.  Die soet happies was smelt-in-die-mond meringue en moderne filo melktert blokkies om aan te smul.

Hierna het die genot net aangehou met 'n uitstekende musiekprogram wat goed afgewissel was en ons kinders se talente behoorlik uitgestal het.  Brandslang het 'n glimlag op almal se gesig gesit en die mannekoor het die aand op 'n hoë noot afgesluit.
 

Monday, 11 March 2013

Tuna Pasta Aandete

Na 'n baie warm dag het ons heerlike Tuna mayo met vars mengelslaai en gekookte eiers saam met broodjies geëet.  Vir die hitte was daar yskoue waatlemoen stukke om aan te smul


Sunday, 10 March 2013

Spyskaart vir die week

Soos altyd is ons afhanklik van beskikbaarheid van produkte, aflewerings wat betyds geskied, onvoorspelbare veranderinge aan die normale roetine, maar ons beplande spyskaart vir die week lyk soos volg:

Maandag:  Na 'n stewige ontbyt van Hawermout, Roosterbrood met Peanutbotter en Stroop begin die week op 'n vinnige noot.  Middagete is 'n heerlike tuisgemaakte bredie met die groot gunsteling Groente Mornay, Beetslaai en gewilde Mengelslaai.  Vanaand eet ons Huis du Preez se Tuna pasta met vars Bolandse seisoens vrugte en slaai.

Dinsdag:  Na 'n ProNutro en romerige roereier ontbyt sit ons aan vir Geurige Thai Hoender, Groente en Noedel Roerbraai met Groenmielies en Geroomde spinasie, altyd bedien saam met 'n vars slaai uit die kombuis.  Aandete is 'n Boerewors Rol met heerlike warm Aartappelslaai en Mengelslaai.

Teen Woensdag het ons planne dalk reeds weer verander so ek hou dit eers as 'n verrassing maar Gebakte Vis en Skyfies is altyd 'n gunsteling en soos gewoonlik is dit POEDING DAG!

Swemgala Pitas

Vrydag was 'n onverwagte, maar baie welkome reëndag in Stellenbosch.  Ongelukkig het die buie so hard uitgesak dat ons swemgala gekanseleer moes word.  Die kombuis was reeds hard besig om die beamptes se verversings reg te kry en was by omdraai verby.  Die heerlike hoendermayo pitas is toe verpak en aan die skool se personeel beskikbaar gestel.  Ons hoop hulle het lekker gesmul.