Pages

Wednesday 29 May 2013

Grille en Giere uit die Koswêreld

Verlede week was weer tyd vir die jaarlikse Kaapse Good Food & Wine Show. Dit was lekker om 'n slag demonstrasies deur top chefs te gaan kyk vir inspirasie en motivering.  Langs die pad leer mens mos altyd ietsie nuut waaraan jy nog nie gedink het nie.

Eerste op die lys was die Food Channel se Baking Mad chef Eric Lanlard (Cake Boy) wat die heerlikste soetgoed voor mens se oë optower.  Soutkaramel is deesdae bo-aan my lysie van smaaksensasies en sy Salted Butter Chocolate Cake is ongelooflik om te aanskou, ek sal dit net eenvoudig self MOET bak.  Hou hierdie spasie dop vir die foto's.  Hy gebruik ook graag nuwe produkte wat beskikbaar raak en was avontuurlik met groenteepoeier wat nie net smaak verleen aan 'n suurlemoentert nie maar 'n interessante groen kleur aan die kors gee.

Die hoogtepunt van die dag vir my was die heerlike "food & wine paring" deur ons eie Stellenbosch chef, Craig Cormack vir Spar.  Die kombinasie van geure en smake is altyd vir my soos 'n reis na nuwe plekke, maar sy hele aanslag en aanbieding het die ervaring nog beter gemaak en ons het gesmul aan happie soos sushi, vars oesters, snoekpatee canapès en Belgiese wafels met bessieroom.  Elkeen natuurlik saam met die gepaste uitgesoekte wyn.


Chef Eric Lanlard vertel hoe baie van ons area, die weer en die wyn hou

Demonstrasie deur chef Eric Lanlard

Vrolik by die Good Food & Wine Show


 By so 'n uitstalling kan mens al die nuwe neigings in kos waarneem, en ek het ook bietjie verder daaroor gelees.  Die "trends" in kosmaak is huidig om kinders aan meer volwasse smake bloot te stel.  Dit is waarskynlik omdat daar deesdae soveel restaurante is wat in baie spesifieke gebiede spesialiseer en kinders kry die geleentheid om hierdie ervarings met hul ouers te deel.  Ons beweeg weg van herhalende geregte en worsbroodjies en bring meer variasie in met gekrummelde hoenderrepies, viskoekies, gevulde paninis, tortillas met vulsels en guacamole en nog meer.

Hoender is die wenner by ligter en gesonder maaltye en is so veelsydig om in kreatiewe disse te gebruik.  Ons het vandag die tradisionele Maleise Hoenderkerrie omgewerk na 'n "koshuis" resep en dit bedien met Basmati rys, Gemengde Groente Mornay, Tzaziki (Komkommer met joghurt en knoffel) wat die mond verfris na die kerrie smake, en Waldorfslaai a la HDP.


Romerige Kaapse Hoenderkerrie 


Chefs is al hoe meer geneig om ongewone materiaal soos houtskywe, leiklip, ens. te gebruik vir die opdien van geregte.  Ons is ongelukkig beperk tot "gewone" melamien borde en moet dus ander maniere vind om kos interessant te maak.

Groente kry al hoe meer aandag en die neiging is om groente in ander gedaantes voor te sit.  Ons het vandag 'n baie gewilde Gemengde Groente Mornay voorgesit.  Dit is growwe gemengde groente met 'n sous wat gegeur word met hoenderaftreksel en bietjie kaas bo-op kry voor dit in die oond gebak word.  Selfs ek wat nie blomkool eet nie, smul hieraan.

Popcorn is een van die GROOTSTE TRENDS in 2013!!! Die kinders maak heeldag popcorn in die mikrogolwe, op die stoof en dalk nog 'n paar plekke.  Daar is so baie nuwe idees vir hierdie gesonde veselryke happie.  Kaneel, Wasabi, Kerrie, Gesoute Karamel is maar 'n paar van die nuwe besondere smake.  Braam is 'n kampioen popcorn maker en het sy eie variasies van onder meer klapper ys en karamel wat selfs bruide laat toustaan.

Die vars spesery smake van die Oosterse lande is nog baie sterk met ander kulture soos Mexico (salsas), Griekeland (tzaziki) en selfs die tradisionele Suid-Afrikaanse kookkuns (Maleise kerrie) het 'n magiese invloed op nuwe ontwikkelinge in die koskombuis.  Iets soos gewone alledaagse stampmielies kan in ander gedaantes verskyn (kerrie of tamatie of selfs as basis vir 'n souttert). 

Die verbeelding kan jou lei tot oneindige moontlikhede.

1 comment:

  1. Waar kan ek resepte boek koop vir koshuis grootmaat kos asb
    Elrika
    082 617 4976

    ReplyDelete