Die kwartaal word gewoonlik afgesluit met die skoonmaak van die koshuis nadat die kinders huistoe is. Junie en Desember maand is "groot" skoonmaak wanneer daar werklik in elke hoekie en gaatjie skoongemaak word, vloere se merke deeglik verwyder word en Badkamers spesiaal ontsmet word. Dit is "strip" (sterk middels wat alle ou politoer en merke verwyder), skrop en politoer van die oggend tot die aand.
Binne hierdie harwar het ons ook vinnig Rose se verjaardag gevier met 'n gesellige koppie tee rondom 'n paar eetgoedjies voordat ons weer ingespring het.
|
Rose wat al meer as 40 jaar in diens is het haar verjaardag saam met ons gevier. Sy groet ons teen die einde van die jaar so dit was die laaste keer dat Elize ons voorsanger die "Happy Birthday" kon insit en almal vir haar kon sing. |
Die opvoeders by die skool is net so druk besig met punte en rapporte in hierdie tyd en ons het vir hulle middag ete gaan voorsit voordat hulle voortgegaan het met die middag se puntebespreking.
|
Die goed uitgerysde brooddeeg reg om in panne te gaan vir heerlike vars gebakte Plaasbrood. |
|
Voorgereg was Gebakte Botterskorsie Sop bedien met vars Plaasbrood. |
|
Plaasbrood uit die HDP oond |
OONDGEBAKTE BOTTERSKORSIE SOP
2 groot Botterskorsies, gehalveer en pitte verwyder. Bestryk die Botterskorsie met 'n mengsel van 50 ml Olyfolie, kaneel, gemengde kruie en bietjie knoffelvlokkies. Bak dit in 'n warm oond by 180 grade tot sag genoeg om die vleis uit te skep.
Kap 1 ui fyn en braai, voeg dit saam met 2 wortels (in blokkies gesny) by botterskorsie en laat prut vir 3 minute.
Voeg 1,5 liter Hoederaftreksel by en bring tot kookpunt, prut vir 30 minute. Proe aan die sop en geur met sout en peper na smaak.
Verpulp in 'n voedselverwerker en voeg 200ml room by.
Bedien met vars gebakte brood.
|
Beesbraaistuk is bedien met 'n tuisgemaakte mosterdsous, Uietert vir die vegetariers en ons gewilde Beet- en Broccoli Slaaie |
|
Vegetariese Uie Tert |
UIE TERT
10-12 porsies
Kors:
Maak 'n pakkie Cream Crackers fyn in die voedselverwerker en meng dit met 125 ml gesmelte botter of margarien. Druk vas op die bodem van 'n groot tertbak.
Vulsel:
2 gekapte uie
1 bossie gekapte groenuie
fyn gekapte grasuie (chives) opsioneel maar baie lekker
125 ml gekapte vars pietersielie
250 ml Cheddar kaas, gerasper
125 ml fyn Parmesan kaas
125 ml Feta kaas, gekrummel
200ml Roomkaas
4 Eiers, geklits
125 ml Suurroom
125 ml Room
Sout en Peper na smaak
250 ml Cheddar (ekstra om bo-oor te strooi)
Braai die uie, groenuie en grasuie saam tot net sag en gaar. Laat effens afkoel.
Meng die Eiers, Suurroom en Room saam en voeg kase en pietersielie by. Geur met sout en vars gemaalde swart peper.
Meng alles saam en giet in tertkors. Bedek met lagie gerasperde Cheddar kaas.
Bak vir ongeveer 30 min by 180 grade. Laat rus vir 10 min voor bediening.
(Gebraaide, gekapte Spek, gevlokte Tuna of Salm kan saam met die kase bygevoeg word as die tert nie vegetaries hoef te wees nie)
|
Van die orige deeg het Johanna ons bederf met heerlike vetkoeke in die kombuis. |